Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
WB-Krieket
Pasop Faf, Rashid sal nie weer só boul nie!
LAAI AF: Jou WB-gids tot Afganistan
Wêreldbekerkrieket

Laai hier af: Afganistan se Wêreldbekergroep in PDF-formaat

Nog ’n bladsy in die geskiedenisboek van Afgaanse krieket, wat teen ’n blitstempo al hoe dikker word, word op 15 Junie volgeskryf.

Dan kom dié woestynland vir die eerste keer in sy bestaan in ’n eendagwedstryd teen Suid-Afrika te staan. Dit sal ook die eerste keer wees wat Afganistan ’n eendagwedstryd by Sophia Gardens in Cardiff, Wallis, speel.

Daardie wedstryd is die Proteas se vyfde in die Wêreldbeker-toernooi, terwyl Afganistan drie wedstryde voor hul kragmeting met Suid-Afrika speel.

Die Afgane het hul WB-buiging in 2015 by die skouspel in Australië en Nieu-Seeland gemaak, maar het nie in dieselfde groep as die Proteas meegeding nie.

Sedertdien het krieket in dié oorloggeteisterde land met rasse skrede gegroei. Die sport word gesien as ’n toevlugsoord vir jong mense wat hul verstand moes slyp met die klank van bomme wat oral rondom hulle ontplof.

In 2017 het Afganistan toetsstatus gekry en hoewel hy nie ’n aanspraakmaker om die titel gaan wees in Engeland en Wallis nie, beskik hy gewis oor die vermoë om een of twee van die groot kanonne te skok.

Rashid Khan is Afganistan se gevaarlikste speler. Foto: Getty Images

Die Proteas en Afganistan het wel al twee keer swaarde gekruis, maar dit was in die T20-formaat.

In die T20-Wêreldtoernooi in 2010, wat in die Karibiese Eilande aangebied is, het die Proteas die Afgane met 59 lopies op die Kensington Oval in Barbados geklop.

In 2016, in die T20-Wêreldtoernooi in Indië, het Suid-Afrika Afganistan met 37 lopies in Mumbai geklop.

Quinton de Kock het in daardie wedstryd 45 lopies van 31 balle gemoker, terwyl die Proteas se huidige kaptein, Faf du Plessis (41*, 27 b), ook kennis sou opdoen van sommige van die Afgaanse boulers.

Onder dié boulers, tel Afganistan se sterspeler, Rashid Khan (20). Dié bybreekbouler is die gesig van Afgaanse krieket en beklee die derde plek op die T20-wêreldranglys. Hy toer ook die wêreld vol en speel in allerlei toernooie, soos die Indiese Premierliga en Australiese Big Bash-liga, as ’n T20-huursoldaat.

Khan het reeds ’n verstommende 123 paaltjies teen ’n gemiddelde van 15 lopies per paaltjie en ’n treftempo van 23 balle per paaltjie in sy 57 internasionale eendagwedstryde platgetrek. Die meerderheid van dié wedstryde was wel teen tweederangse spanne, maar dit is nietemin ’n uitsonderlike vertoningslys.

Toe hy as 17-jarige teen die Proteas te staan gekom het in 2016, het hy egter nie veel rede gehad om fees te vier nie.

In daardie T20-wedstryd het hy ’n allemintige 51 lopies in sy vier beurte afgestaan, sonder om ’n slagoffer te eis.

Wanneer Du Plessis en kie hom op 15 Junie op Sophia Gardens weer trotseer, moet hulle egter lugtig wees. Hy is gewis ’n gevaarlike kalant met sy bybreke en goëlballe.

Die Proteas se WB-wedstryd teen Afganistan sal slegs hul sesde in die Walliese hoofstad wees.

Van Suid-Afrika se vorige vyf eendagwedstryde daar, het hy een gewen, een verloor, terwyl een wedstryd gelykop geëindig en twee uitgereën het.

  • Tinus van Staden, wat die Wêreldbeker-toernooi vir Netwerk24 en sy susterpublikasies gaan dek, sal in die komende dae al Suid-Afrika se teenstanders onder die loep neem.
Meer oor:  Wêreldbekerkrieket  |  Afganistan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.