Australië

Laai hier af: Australië se Wêreldbekergroep in PDF-formaat

Engeland, Indië . . . en moenie vergeet van die Aussies noudat Steve Smith en David Warner terug is nie.

Australië word amper soos ’n stiefkind behandel in gesprekke oor wie nou werklik die aanspraakmakers is om vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Engeland te wen.

So asof “sandpapergate” die glans van hul ongelooflike WB-vertoningslys afgeskuur het. Dat Australië die verdedigende kampioen is, word ook geïgnoreer.

Ja, die vier jaar wat verloop het sedert Michael Clarke die trofee in 2015 omhoog gehou het, was die span in gifappeltjie-kleure nie strykdeur goedgesind nie.

Ná die balpeuter-skandaal maak Smith, die voormalige kaptein, en die kaartmannetjie Warner hul volwaardige terugkeer tot die span wanneer hul veldtog op 1 Junie teen Afganistan in Bristol begin.

Steve Smith, die man op wie se skouers die Aussies se WB-hoop rus. Foto: Getty Images

Dié twee spelers is juis die rede waarom Australië skielik tog onthou word wanneer daar oor aanspraakmakers gepraat word.

Warner was die voorste lopiemaker in die pas afgelope Indiese Premierliga met ’n allemintige 692 lopies in 12 wedstryde vir die Sunrisers Hyderabad. Smith het geskitter in ’n reeks van drie opwarmwedstryde tussen ’n Aussie-elftal (wat eintlik maar hul Wêreldbeker-span is) en ’n Nieu-Seelandse elftal in Brisbane. Hy het tellings van 89* en 91* in die laaste twee wedstryde aangeteken.

Hoe die Engelse publiek dié duo gaan ontvang, gaan een van die groot hoogtepunte weg van die veld wees.

’n Wyse man sal sy geld daarop verwed dat menere Smith en Warner hulle kan staal vir ’n paar kreatiewe beledigings.

Wanneer Aaron Finch, die WB-kaptein, se span op 6 Julie in die laaste groepwedstryd van die toernooi teen Suid-Afrika in Manchester speel, sal die krieketwêreld reeds weet of die Aussies ’n realistiese kans staan om hul titel te verdedig.

Suid-Afrika sal poog om hul aartsvyande se pad met duwweltjies te besaai en slegs hul tweede WB-sege oor die Aussies te behaal.

Australië en Suid-Afrika het mekaar al vyf keer by ’n WB-toernooi gepak. Die Aussies het drie keer gewen (in 1999 en twee keer in 2007), Suid-Afrika was een keer aan die wenkant (in 1992) en dan was daar dáái gelykopuitslag waartydens Allan Donald in die halfeindronde in 1999 uitgehardloop is.

Die Aussies is die suksesvolste span in die toernooi se geskiedenis en was al vyf keer die kampioen – in 1987, 1999, 2003, 2007 en 2015.

Die Proteas het wel, vir wat dit mag werd wees, ’n gunstige vertoningslys in internasionale eendagwedstryde op Old Trafford.

Hulle het twee van die drie eendagwedstryde daar gewen.

Al drie dié wedstryde was teen Engeland en die laaste een was ’n volle 16 jaar gelede, toe die Proteas die Engelse in 2003 in Manchester geklop het.

  • Tinus van Staden, wat die Wêreldbeker-toernooi vir Netwerk24 en sy susterpublikasies gaan dek, sal in die komende dae al Suid-Afrika se teenstanders onder die loep neem. Hou Netwerk dop vir nog Wêreldbekergroepe.

Indien jy dit gemis het:

Afganistan se Wêreldbekergroep in PDF-formaat