Bangladesj, Wêreldbekerkrieket

Laai hier af: Bangladesj se Wêreldbekergroep in PDF-formaat

1999: Pakistan. 2007: Indië én Suid-Afrika. 2011: Engeland. 2015: Engeland. Wie gaan die Tiere in 2019 skok?

Bangladesj is lief daarvoor om vir ’n opskudding of twee in Wêreldbeker-toernooie te sorg. Vanjaar sal hy poog om nogmaals een van die “grotes” te klop.

Die Proteas sal bewus wees van die bedreiging wat die Tiere inhou wanneer dié spanne op 2 Junie op die Oval in Londen kragte meet. Bangladesj het hulle immers by die toernooi in 2007 afgeransel.

Vir Suid-Afrika gaan hierdie wedstryd van kardinale belang wees. Dit is die Proteas se tweede wedstryd van die toernooi, ’n paar dae nadat hulle die openingswedstryd teen die gasheerspan, Engeland, ook op die Oval speel.

Engeland is die oorweldigende gunsteling vir daardie wedstryd. As die Proteas verloor, sal hulle graag onmiddellik wil terugslaan teen Bangladesj.

Shakib Al Hasan is Bangladesj se sleutelspeler. Foto: Gallo Images

Veral omdat Suid-Afrika se volgende wedstryd teen die ander gunsteling is – op 5 Junie teen Indië in Southampton. Dit is dus nie vergesog om te dink Suid-Afrika kan met drie nederlae ná ’n week se aksie by die skouspel sit, as die Tiere dit weer regkry om hulle te skok.

Bangladesj se veldtog begin teen die Proteas.

Die span sweet op die oomblik oor die beskikbaarheid van sy beste speler. Die veelsydige speler Shakib al Hasan, wat tans as die tweede voorste veelsydige speler naas Afganistan se Rashid Khan in eendagkrieket gereken word, moes beseer uittree in sy span se kragmeting met Ierland Woensdag in Dublin.

Al Hasan het die veld met ’n sybesering verlaat net nadat hy ’n vyftigtal in die Tiere se sege met ses paaltjies bereik het.

Die 32-jarige Al Hasan was nie Vrydag in sy span se kragmeting met die Windies in aksie nie. Sy teenwoordigheid is belangrik as die Tiere hul vertoningslys as leeutemmers wil voortsit.

Veral vir hul wedstryd op 8 Junie in Cardiff, Wallis. Want dan speel hulle teen Engeland – die span wat hulle in die laaste twee toernooie geskok het. Toegegee, die Engeland van veral 2015 is nie in dieselfde klas as vanjaar se spul Pommies nie.

Maar Al Hasan wéét hoe om hulle te klop – hy was immers deel van die Bangladesj-spanne wat dit in 2011 én 2015 reggekry het.

Ditto die aanvangskolwer Tamim Iqbal en die veelsydige speler Mahmudullah.

Die Tiere het nog net 11 van hul 32 Wêreldbeker-wedstryde gewen. Hoewel hulle beslis vir ’n skok of twee kan sorg, behoort hulle egter nie ’n realistiese aanspraakmaker op ’n plek in die halfeindronde te wees nie.

  • Tinus van Staden, wat die Wêreldbeker-toernooi vir Netwerk24 en sy susterpublikasies gaan dek, sal in die komende dae al Suid-Afrika se teenstanders onder die loep neem. Hou Netwerk dop vir nog Wêreldbekergroepe.

Indien jy dit gemis het:

Afganistan se Wêreldbekergroep in PDF-formaat

Australië se Wêreldbekergroep in PDF-formaat