a

Laai af: Pakistan se Wêreldbekergroep in PDF

Die vorige, en enigste, Pakistanse krieketkaptein wat die Wêreldbeker-trofee omhoog gehou het, is nou die land se eerste minister.

As daar enige twyfel was oor hoe fanaties die Pakistani’s oor hul voorspelbaar onvoorspelbare krieketspan is, behoort Imran Khan se posisie as premier dít uit die weg te ruim.

Khan se troepe het die Wêreldbeker (WB)-toernooi in 1992 in Australië gewen. Sedertdien het Pakistan homself nog ’n keer in ’n WB-eindstryd bevind (in 1999), ’n T20-Wêreldtoernooi-titel ingepalm (in 2009) en die Kampioenetrofee gewen (in 2017).

Maar hy kon nog nie weer ’n WB wen nie.

Wat die Pakistani’s wél kan doen, is om op enige gegewe dag enige teenstander kis te speel. Wat Frankryk in rugby is, is Pakistan in krieket.

’n Span wat een week die beste krieket in die wêreld kan opdis, net om in sy volgende wedstryd soos ’n o.9 C-span te lyk.

Imran Khan hou die Wêreldbeker-trofee omhoog nadat Pakistan die toernooi in 1992 in Australië gewen het. Khan is deesdae Pakistan se eerste minister. Foto: Getty Images

Die vraag is altyd voor ’n groot toernooi: Watter Pakistan gaan opdaag? Aan die vooraand van vanjaar se WB-toernooi in Engeland, is dit glad nie anders nie.

In 2017 by die toernooi om die Kampioenetrofee, wat ook in Engeland aangebied is, het die Pakistani’s vriend en vyand verras deur sy aartsvyand Indië in die eindstryd te troef.

Sarfraz Ahmed, die kaptein, en Mickey Arthur, die breier, sal hulle op daardie ervaring beroep wanneer hulle hul troepe moet opsweep vir hul eerste wedstryd op 31 Mei teen die Windies in Nottingham.

Pakistan se toeskouers is altyd benoude boude oor hul span by ’n groot toernooi, maar die spelers gaan self die toernooi met spreekwoordelike lam agterstewe tegemoet nadat Engeland hulle ’n liederlike pak slae toegedien het in die spanne se onlangse reeks.

Engeland het met 4-0 gewen, maar dit was nie ’n geval van Pakistan wat eenvoudig boedel oorgegee het nie.

In elke wedstryd, behalwe die laaste een toe hulle 297 aangeteken het, het Pakistan verby die 300-lopie-kerf geskuif.

Engeland het gewen omdat hy eenvoudig meer skietgoed gehad het. Dit moet ook nie as ’n teken gesien word dat Pakistan kanonvoer in die toernooi gaan wees nie.

Met spelers soos die opwindende jong kolwer Babar Azam in sy geledere, kan hy beslis een of twee van die gunstelinge skrikmaak. Arthur voorspel Azam (24) gaan binne ’n paar jaar in dieselfde asem as Indië se kaptein, Virat Kohli, genoem word.

Azam was Pakistan se beste speler op hul toer in Suid-Afrika vroeër vanjaar. Hy het veral vir Dale Steyn behoorlik aangevat.

Sarfraz Ahmed, Pakistan se kaptein. Foto: Getty Images

Die Proteas sal lugtig wees vir hom wanneer die spanne mekaar op 23 Junie op die ikoniese Lord’s in Londen aandurf.

By die vorige WB, in 2015, het Pakistan die Proteas geklop. Maar die drie kere wat die spanne voor dít kragte gemeet het, in 1992, 1996 en 1999, het Suid-Afrika gewen.

Die Proteas het wel nie ’n gunstige vertoningslys op Lord’s nie. Hulle het nog net een van hul vier kitswedstryde daar gewen. Dié wedstryd was wel die mees onlangse – in 2017, toe hulle ’n sterk Engelse span vir 153 uitgeboul het.

Kagiso Rabada het daardie dag 4/39 in nege boulbeurte platgetrek. Hy sal hoop om só ’n vertoning te herhaal teen Azam en kie.

Anders kan eerste minister Khan dalk net met ’n groot glimlag sit en toekyk hoe sy land se sport-kroonjuweel vir nóg ’n WB-skok sorg.

Indien jy dit gemis het:

Nieu-Seeland se Wêreldbekergroep in PDF

Indië se Wêreldbekergroep in PDF

Afganistan se Wêreldbekergroep in PDF

Australië se Wêreldbekergroep in PDF

Bangladesj se Wêreldbekergroep in PDF

Engeland se Wêreldbekergroep in PDF