a

Laai af: Sri Lanka se Wêreldbekergroep in PDF

Kumar Sangakkara, Mahela Jayawardene en Tillakaratne Dilshan is drie van die beste kolwers wat Sri Lanka tot nog toe opgelewer het.

Dié trio het hulle in 2015 gehelp om die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi te haal, waar hulle deur die Proteas afgeransel is. Vanjaar ruk die Eilandspan na Engeland op sonder enige van dié drie kolwers.

Dit is een van die groot redes waarom Sri Lanka vanjaar sy geringste kans van die laaste vier WB-toernooie gegun word om ’n werklike aanspraakmaker te wees.

Die Sri Lankane het egter ’n geneigdheid om te verras – soos wat hulle vroeër vanjaar gemaak het toe hulle ’n geskiedkundige eerste toetsreekssege ooit deur ’n span van die subkontinent in Suid-Afrika behaal het. Dít was egter in toetskrieket.

Angelo Mathews is Sri Lanka se belangrikste kolwer. Foto: Gallo Images

In die eendagreeks het die Proteas die vloer met die Sri Lankane gevee.

Tog sal die terugkeer van Angelo Mathews, die voormalige kaptein en skitterende kolwer, die span meer selfvertroue by die skouspel in Engeland gee.

Die dienste van die mokerman Thisara Perera is boonop tot hul beskikking. Hy en die strydros-naatbouler Lasith Malinga is die enigste spelers in hul groep wat in die eindstryd van 2011 se toernooi teen Indië vasgeval het.

Perera het in daardie eindstryd ’n warrelwindbeurt van 22 van net 9 balle gespeel, terwyl Malinga syfers van 2/42 in nege beurte behaal het.

Malinga (35) het selfs in die eindstryd van 2007 se toernooi teen Australië gespeel.

Sri Lanka was die kampioen in 1996 en vaar tradisioneel nie swak in toernooi-krieket nie.

Hy het die toernooi om die Kampioenetrofee in 2002 met Indië gedeel en die T20-Wêreldtoernooi in 2014 gewen, terwyl die Sri Lankane in 2009 en 2012 ook die T20-Wêreldtoernooi se naaswenners was.

Al daardie goeie veldtogte is egter op die skouers van ysters soos Sangakkara-hulle gebou.

Suid-Afrika het egter nog nooit veel probleme met die Eilandspan by Wêreldbeker-toernooie ondervind nie. Die Proteas het drie van die vyf WB-wedstryde wat hulle al teen die Sri Lankane gespeel het, gewen. Een wedstryd het gelykop geëindig (in 2003), terwyl Sri Lanka Suid-Afrika by die toernooi in 1992 geklop het.

Die Proteas sal dus op 28 Junie in Durham met selfvertroue na die Riverside-veld gaan vir hul kragmeting met die Sri Lankaanse span van Dimuth Karunaratne.

Dié veld is wel relatief onbekend aan Suid-Afrika. Hy het nog nooit ’n eendag- of toetswedstryd daar gespeel nie, maar wel een T20-westryd in 2012 teen Engeland.

Die Proteas het daardie wedstryd met sewe paaltjies gewen, met JP Duminy wat ’n onoorwonne 47 geslaan het en Dale Steyn wat met suinige syfers van 1/13 in sy vier beurte geëindig het.

Indien jy dit gemis het:

Laai af: Pakistan se Wêreldbekergroep in PDF

Nieu-Seeland se Wêreldbekergroep in PDF

Indië se Wêreldbekergroep in PDF

Afganistan se Wêreldbekergroep in PDF

Australië se Wêreldbekergroep in PDF

Bangladesj se Wêreldbekergroep in PDF

Engeland se Wêreldbekergroep in PDF