“Is ek veronderstel om jou toe te laat om net hier te staan?” vra die veiligheidswag my.

Ek staan aan die Nursery-kant van die Lord’s-krieketveld in Londen, op die tweede vlak van die paviljoen, agter al die propvol sitplekke. Die mediasentrum wat soos ’n ruimtetuig lyk, is aan my regterkant. Voor my draf ’n bouler van Pakistan in om ’n aflewering na Faf du Plessis af te stuur.

Ek probeer, soos altyd, uit die mediaboks ontsnap om die atmosfeer in te drink.

En watter atmosfeer is dit nie ... ’n See van groen Pakistanse ondersteuners het opgeruk om hul span se belangrike wedstryd op hierdie Sondag teen Suid-Afrika by te woon. Dit is die eerste wedstryd by Lord’s in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi.

Dit het die toernooi 25 dae geneem om sy hoofkwartier te bereik. En opwinding het saamgekom.

“Jammer, mag ek nie hier staan nie?” vra ek deur die geraas en geroesemoes vir die veiligheidswag. Ek pla niemand nie, is nie in enigiemand se pad nie.

By elke wedstryd – op die Oval, by die Rose Bowl, by Sophia Gardens en op Edgabston – het ek tussen die skare ingestap. Om te ervaar hoe die toeskouers die wedstryd sien en voel.

“Nee, nie eintlik nie, maar ek weet nie hoe belangrik jy is nie,” sê hy en wys na die akkreditasie wat om my nek hang.

Ah, Lord’s. Die tuiste van krieket. En snobisme. Die versinnebeelding van die Engelse establishment.

Ek skud my kop en mik trappe toe.

“Nee, toemaar, ek is glad nie belangrik nie.”

Hier is daar steeds ’n sigbare hiërargie. Dit kom in die vorm van geel en rooi – die geel en rooi dasse, baadjies en linte van Lord’s se lede van die Marylebone Cricket Club (MCC).

Lord’s is die tuiste van die MCC-klub, wat die beskermheer van die spel se reëls is sedert die klub in 1787 gestig is.

Die MCC-lede kyk die krieket vanuit die “Pavilion”, met sy geskiedkundige Long Room. Daar is ’n waglys van 29 jaar om ’n volle MCC-lid te word en vroue is eers in 1998 toegelaat om lede te word. Tot daardie jaar was koningin Elizabeth die enigste vrou wat toegelaat is om ’n wedstryd vanuit die Pavillion te kyk!

Dis die argetipe van ’n “old boys’-klub”. Moet ook nie dink jy kan sonder pynlike netjiese klere by die Pavillion instap nie.

Maar gee die duiwel wat hom toekom, die MCC doen wel baie om die spel te help groei en te beskerm.

Dit is so ’n belewenis om krieket by Lord’s te kyk, omdat krieketgeskiedenis hier leef.

Ek stap by die trappe af en verby die kosstalletjies op die “Nursery”-veld agter die hoofveld. Hier staan ’n man en kerf houtskerwe van ’n halfgemaakte krieketkolf af, vir ondersteuners om te sien hoe ’n kolf gemaak word.

“Maak hulle dan nie kolwe met masjiene nie?” vra ’n vrou langs my vir haar man, in Afrikaans.

Ek stel myself voor en gesels met dié paartjie van Pretoria, wat die naweek Engeland toe gekom het vir die wedstryd teen Pakistan.

“Is julle net vir die naweek hier?” vra ek.

“Ja, hy het nog nooit ’n wedstryd op Lord’s gekyk nie, so hierdie was nie ’n geleentheid wat ons wou misloop nie,” sê die vrou en wys na haar metgesel.

’n Mens sal ver moet soek vir ’n ander krieketveld met só ’n aantrekkingskrag, dat mense derduisende rande sal bestee, derduisende kilometers sal vlieg vir een enkele naweek, om slegs een wedstryd daar by te woon. Die snobisme kan seker maar vergewe word.