Toe Lungi Ngidi besef die gevaarlike Engelse kolwers is ook maar net mense, het alles vir dié jong Protea-snelbouler begin kliek in sy eerste Wêreldbekerwedstryd.

Ngidi (23) het Donderdag op die Oval in Londen gesukkel in sy eerste boulskof, maar later tot sy reg gekom en met syfers van 3/66 gehelp om Engeland tot 311 te beperk.

“Ek is teleurgesteld met my boulvertoning aan die begin. Een van my grootste take is om paaltjies te vat met die nuwe bal,” het Ngidi gesê ná die wedstryd wat Engeland weens ’n power Protea-kolfvertoning met 104 lopies gewen het.

“Maar ek het geweet hulle is ’n span wat daarvan hou om groot tellings aan te teken, so die doodsnikbeurte sou belangrik wees.

“Ek is bly dat ek drie paaltjies platgetrek het, maar ek sou twee paaltjies aan die begin geniet het.”

In die laaste tien boulbeurte, wat ’n tydperk is waarin die Engelse gewoonlik verwoesting saai, het Ngidi gehelp om hulle tot net 76 lopies te beperk.

Dít het hy gedoen deur onder meer ’n magdom stadige balle te boul.

“Ek het nog nooit soveel stadige balle in ’n skof geboul soos vandag nie,” sê Ngidi.

“Maar om ’n stadige bal te boul, is niks nuuts nie. Hulle kon dit nie slaan nie, so ek het daarmee volhard.”

Een van die drie paaltjies wat hy platgetrek het, was dié van die verwoestende Jos Buttler. Die Proteas het Buttler (18, 16 b) baie goed ingeperk.

“Ons het geweet hy gaan inkom en die lopietempo probeer opjaag.

“Ons weet hy beskik oor ’n wye verskeidenheid van houe, so die plan was om hom in te perk met stadige balle.”

Toe het ek my ritme gevind. Ek het van hulle vergeet en net gedoen wat ek doen. Aan die begin het ek dit dalk ’n bietjie oordink. – LUNGI NGIDI

Almal praat van Engeland as ’n span wat tellings van 350 na willekeur opstapel – veral as iemand soos Buttler aan die gang kom.

Ngidi sê hy was bewus daarvan, maar “nadat hulle ’n paar keer buiterand bygekry het en die bal in die lug opgeslaan het, het ek besef hulle is ook net mense, net soos ek”.

“Toe het ek my ritme gevind. Ek het van hulle vergeet en net gedoen wat ek doen. Aan die begin het ek dit dalk ’n bietjie oordink.”

LONDON, ENGLAND - MAY 30: Lungi Ngidi (R) of South
Lungi Ngidi (regs) en Quinton de Kock vier die paaltjie van Jos Buttler. Foto: Getty Images

Hy sê almal het die eerste wedstryd soveel opgehemel dat “jy amper gevoel het of dit reeds die eindstryd is”.

Nou fokus Suid-Afrika net op dit wat die span moet doen om die halfeindronde te haal.

“Dit was maar net die eerste wedstryd in ’n toernooi met baie wedstryde.”

Ngidi het ook ’n lansie gebreek vir die Engelse snelbouler Jofra Archer wat met skitterende syfers van 3/27 in sewe beurte geëindig het.

“Hy het baie vinnig en akkuraat geboul. Vandag was sy dag, nou wag ek vir myne.”