Lungi Ngidi is slaggereed om Nieu-Seeland Woensdag op Edgbaston in Birmingham te pak nadat hy Maandag ’n fiksheidstoets geslaag het.

Dié Protea-snelbouler het ’n dyspierbesering opgedoen in Suid-Afrika se tweede wedstryd van die Wêreldbeker-toernooi teen Bangladesj en het daarna die kragmetings met Indië, die Windies en Afganistan misgeloop.

“Ek het vandag ’n fiksheidstoets geslaag, so ek is gereed vir die wedstryd,” het Ngidi ná die Proteas se oefening gesê.

“Dit beteken ek is 100% gereed. Ek het vandag so hard geboul soos wat ek in ’n wedstryd sou.”

Sy tyd langs die grenstou was frustrerend, sê die 23-jarige Ngidi.

“Dit is taai, want beserings is nooit lekker nie. Die ondersteuning wat ek gekry het, het egter baie gehelp.”

Ngidi het die veld verlaat nadat hy slegs vier boulbeurte teen Bangladesj afgestuur het. Die Proteas het daardie wedstryd verloor en was sedertdien in ’n benarde posisie in die toernooi.

“Dit het nie gehelp dat ek die veld verlaat het voordat ek al my boulbeurte afgestuur het nie, want iemand anders moes toe my kwota voltooi. Dit is nie asof ek wou seerkry nie, maar dit het ’n bietjie gevoel of ek die span in die steek laat.

“In daardie wedstryd het ons te kort geboul. Dit gebeur soms. Bangladesj moet wel krediet kry, want hulle het ’n goeie telling behaal en dit verdedig.”

Hy sê die Proteas gaan waarskynlik met ’n voller lengte teen Nieu-Seeland volhard, maar “ons is snelboulers, so daar is nie ’n manier hoe ons glád nie kort gaan boul nie.”

“Die blad dikteer watter lengte en variasies ek sal boul. Die seile was wel ’n rukkie op die blad hier, so jy sal dalk voller wil boul sodat jy swaai en naatbeweging kan kry.

“Die blad het vandag ’n bietjie stadig gelyk, so ’n lengte van vyf meter van die paaltjies af, sal die kolwers toets.”

Dit is juis ’n groot fokuspunt van Ngidi om strykdeur aanvallende lengtes te handhaaf. “Ek het dit dalk nie in die eerste wedstryd (teen Engeland) in my eerste skof gedoen nie.”

Ngidi sê hoewel die Kiwi’s ’n gevaarlike span is, het hulle moontlik ’n swakplek of twee in hul mondering.

“Hul middel- en laerorde is dalk nog nie baie getoets nie. Die toporde het sover die meeste van hul lopies aangeteken.

“Dalk as ons een of twee vroeë paaltjies kan kry en die middelorde vroeg inkry, kan jy dalk ’n gaping oopmaak.”

Nieu-Seeland se kolfafrigter, Craig McMillan, sê egter hy voel nie die feit dat die middelorde nog nie veel aksie gesien het, is ’n potensiële swakpunt nie.

“Ons mikpunt is om elke wedstryd so goed as moontlik te wen en dít het ons tot dusver gedoen,” sê McMillan, wie se span onoorwonne is ná seges teen Bangladesj, Afganistan en Sri Lanka en ’n uitgereënde stryd teen Indië.

Claude Henderson, die Proteas se draaiboul-afrigter, sê dit is ’n groot pluspunt dat Ngidi fiks gaan wees vir dié stryd.

“Dit is uitstekende nuus vir ons, want hy is ’n wêreldklasbouler,” sê Henderson.

Ngidi behoort vir Beuran Hendricks in die elftal te vervang in wat waarskynlik die enigste verandering sal wees van die span wat Afganistan Saterdag in Cardiff geklop het.