Die Proteas gaan waarskynlik nog nie môre met die beseerde snelbouler Lungi Ngidi waag wanneer hulle teen die Wes-Indiese Eilande in Southampton speel nie.

“Lungi toon elke dag vordering. Hy sal waarskynlik kan speel, maar dit sal ietwat van ’n waagstuk wees,” het Ottis Gibson, die Pro­teas se afrigter, gister by die Rose Bowl gesê.

Lungi Ngidi het die veld Sondag teen Bangladesj met ’n dyspierbesering verlaat. Foto: Getty Images

In Ngidi se afwesigheid kan Beuran Hendricks, die linkshandige snelbouler, moontlik sy eerste speelkans in die toernooi kry. Hendricks is vandeesweek na die span ontbied nadat Dale Steyn met ’n skouerbesering na Suid-Afrika moes terugkeer.

’n Ander opsie sou wees om weer vir Tabraiz Shamsi, die linkshandige gewrigsdraaier, in te span. Die Proteas kan ook besluit om vir Dwaine Pretorius te gebruik, maar die Windies se aanvallende kolwers sal sy stadige boulspoed waarskynlik geniet.

Onder die kolwers kan daar ook straks ’n verandering kom. Aiden Markram het die vorige wedstryd teen Indië misgeloop omdat Gibson sy “beste spelers teen draaiers” teen dié span wou kies. Markram ken die Rose Bowl goed nadat hy voor die WB lopies hier vir Hamp­shire geslaan het. Gibson kan oorweeg om hom in die sukkelende JP Duminy se plek te kies. – Tinus van Staden