Daar hang steeds ’n vraagteken oor die fiksheid van die Protea-snelbouler Lungi Ngidi.

Faf du Plessis, die Protea-krieketkaptein, het Vrydag gesê ’n finale besluit oor Ngidi se beskikbaarheid vir Saterdag se Wêreldbeker-wedstryd teen Afganistan in Cardiff, Wallis, sal eers Saterdagoggend geneem word.

Die kans is egter skraal dat daar met hom gewaag sal word en Beuran Hendricks kan moontlik sy plek in die elftal behou.

Ngidi het ’n dyspierbesering opgedoen nadat hy net vier boulbeurte in die tweede wedstryd teen Bangladesj afgestuur het. Hy het sedertdien die wedstryde teen Indië en die Windies misgeloop en die Proteas het gehoop – en verwag – dat hy fiks sou wees vir dié wedstryd.

“Dit is altyd moeilik met dyspierbeserings en snelboulers om vas te stel presies wanneer hulle ’n terugkeer moet maak,” sê Du Plessis.

“Dit is moeilik, want ons is in ’n posisie waar ons vyf uit vyf wedstryde moet wen, so jy wil hê jou beste spelers moet beskikbaar wees.

“Maar aan die ander kant moet jy jouself afvra of jy met hom wil waag as hy nie 100% of 90% gereed is nie.

“Die regte besluit sal waarskynlik wees om te sê as hy nie 100% gereed is nie, moet hy nog ’n bietjie langer kans kry om te herstel vir die volgende vier wedstryde, wat baie belangrik gaan wees.”

Ná die wedstryd teen Afganistan, speel die Proteas Woensdag teen Nieu-Seeland in Birmingham.

Du Plessis sê Hendricks lyk goed in die nette en hulle het vertroue in dié hotklou se vermoë.

“Maar ’n besluit sal eers môreoggend geneem word.”

Aiden Markram sal waarskynlik ook ten koste van JP Duminy in die elftal behou word.

Die Proteas is in ’n posisie waar hulle al vyf hul oorblywende wedstryde móét wen, so hulle kan dit nie bekostig om Afganistan te onderskat nie.

“Jy kry nie meer iets soos ‘kleiner’ of ‘swakker’ spanne nie. Hulle het spelers in hul kleedkamer wat ’n wedstryd van jou kan wegvat,” sê Du Plessis.

“Rashid Khan is ’n voorbeeld van so ’n speler. Hy is waarskynlik die beste bybreekbouler in T20-krieket. In eendagkrieket het hy meer tyd, maar jy as kolwer hoef ook nie soveel waagstukke teen hom aan te gaan nie.

“Dit gee ons dan ’n kans om ander boulers aan te val. Jy moet net nie kanse teen hom vat en paaltjies teen hom afstaan nie.”

Volgens hom was daar wel nie veel draai toe die Proteas in hul opwarmwedstryd teen Sri Lanka by Sophia Gardens gespeel het nie. Dié veld het baie kort reguit-grense (60 en 64 meter), maar groot sy-grense (72 en 74 meter).

Du Plessis sê op ’n veld met sulke kort reguit-grense soos Sophia Gardens, kan draaiers in die versoeking wees om ietwat korter te boul en sodoende te vermy om reguit vir ses geslaan te word. Khan kan dus só gemelk word vir enkellopies aan die by- en wegkante van die veld.

“As draaiers dus hul lengtes ’n bietjie terugtrek, neutraliseer hulle eintlik van hul sterkpunte. Hopelik kan ons dit tot ons voordeel benut.”

Naatboulers sal ook verkies om sywaarts gespeel te word.

“Dit beteken egter nie om die bal die heeltyd kort te plant nie. Met die vaardighede wat ons naatboulers het, moet ons kyk of ons die bal kan kry om te swaai of van die naat te beweeg.”

Reën word vir Saterdagoggend voorspel, maar dié kanse neem van so 13:00 af, af tot 3%. Die kans vir ’n voltooide wedstryd is dus goed.