Die lyftaal van die Suid-Afrikaanse krieketspan het al vóór van hul wedstryde in die Wêreldbeker-toernooi verraai dat alles nie pluis is nie en dat hul ingesteldheid nie is wat dit moet wees nie.

Baie keer is dit die klein dingetjies wat saak maak en wys of daar enige energie is wat positief uitgestraal word.

Vir my was die teken dat hierdie span, wat sy eerste drie wedstryde almal verloor het en sal moet spartel en ’n totale ommekeer moet toon om net naby daaraan te kom om die halfeindronde te haal, nie op die regte golflengte ingestel is nie, toe die volkslied gesing is verlede Sondag teen Bangladesj.

Kagiso Rabada, wat veronderstel is om ’n dryfveer en een van die belangrike skakels in die span te wees, het met ’n mond vol tande daar gestaan.

Niemand verwag die spelers moet soos ’n Walliese mannekoor tekere gaan wanneer hulle hul volkslied sing nie, maar dit is meestal ’n aanduiding van wat die ingesteldheid van die spelers is.

Hou in gedagte dat Rabada geweet het hy moet net daarna die nuwe bal in sy hande neem en dadelik sy stempel op die wedstryd afdruk. Uiteraard moet hy vuur en vlam wees en omtrent uit sy vel kan spring vir wat voorlê.

Watter boodskap het hy nie uitgestuur nie deur so belangeloos daar te staan en te lyk of hy die volgende drie uur in ’n eksamenlokaal moet deurbring met ’n komplekse wiskundevraestel voor hom.

Nodeloos om te sê Rabada se vertoning op die veld was ’n spieëlbeeld van sy vertoning met die sing van die volkslied.

Teen Indië het die spelers net so belangeloos gelyk toe hulle die volkslied moes sing.

Boonop was dit ’n verbroude vangskoot van Rabada net toe die laaste vyf boulbeurte aanbreek, wat Suid-Afrika ’n nekslag teen Bangladesj toegedien het.

Die wenspan het daarna 54 lopies in die laaste vier beurte aangeteken.

Dit bring my by nog ’n punt hoekom Suid-Afrika tot dusver so vrot vertoon.

Dit is hul veldwerk.

Daar is niks in krieket wat ’n span se ingesteldheid en entoesiasme meer uitbeeld as hoe hulle veldwerk doen nie.

David Miller verbrou ’n maklike vangkans, waarmee hy Woensdag in Southampton van die Indiese gevaarman Rohit Sharma ontslae kon geraak het. Foto: Getty Images

Wat kolfwerk en boulwerk betref, kry jy nog spanne wat danksy individue se vaardighede uitstaan bo ander. Daaraan kan niks gedoen word nie.

Maar wanneer dit by veldwerk kom, is daar geen verskoning nie.

Daar gaan dit bloot oor harde werk en toewyding. Suid-Afrika se veldwerk in hierdie Wêreldbeker is beroerd en ’n verleentheid. Ek volstaan met David Miller se verspot maklike vangskoot wat verbrou is teen Indië.

Ray Jennings se spanne was nie altyd die mees begaafde nie, maar hy het hulle in die grond in gedril wanneer dit by veldwerk gekom het en daarom het hulle uitgestaan. Hy het gesorg hulle is wat daardie aspek van die spel betref ten volle gewapen en het druk op teenstanders geplaas. Jennings se filosofie was dat sy span sal veldwerk doen soos hulle geoefen het en hy dus geen nonsens gevat het nie.

Dit is ook hoekom hy tot vandag nog sedert hertoelating in 1991 die enigste SA afrigter (o.19-span) is wat ’n Wêreldbeker vir die land gewen het.

Ai, hoe verlang ek nou na ’n Ray Jennings as afrigter, maar hier het Krieket Suid-Afrika (KSA) ook sy hand oorspeel deur van hom ontslae te raak net omdat hy streng en gedissiplineerd was en nie nonsens van spelers óf administrateurs gevat het nie.

Ottis Gibson het ’n liggewig-afrigtingspan om hom. Daarom was dit so ironies, en hartseer, om te sien Bangladesj het twee Suid-Afrikaners, Neil McKenzie (kolfwerk) en Ryan Cook (veldwerk), in hul afrigtingspan. Hulle is boonop die seuns van twee van Suid-Afrika se voormalige groot name, Kevin McKenzie en Jimmy Cook.

Nee wat Suid-Afrika, julle maai nou wat julle gesaai het.