Daar sal ernstig opgetree moet word ná die Wêreldbeker-toernooi, sê die Protea-kolwer David Miller.

Suid-Afrika se nagmerrie-toernooi in Engeland het Sondag op Lord’s voortgeduur toe die span met 49 lopies teen Pakistan vasgeval het. Die span is dus nou amptelik uit die wedloop om die halfeindronde te haal.

“Ons sal beslis moet optree ná die WB en as individue en as ’n span selfondersoek doen. Ons moet volle verantwoordelikheid neem,” sê die 30-jarige Miller.

Hy het ook die versekering gegee dat dit steeds vir hom die grootste voorreg is om vir die Proteas te speel. Hy bly ten volle toegewyd aan die nasionale span.

“Dis steeds ’n groot ding vir my om my land te verteenwoordig, ek aanvaar die druk wat daarmee gepaardgaan. Ek geniet dit. Ek aanvaar die houe wat uitgedeel word wanneer ek nie goed speel nie,” sê hy.

“Dit is deel van die spel. Ek wil steeds vir my land speel. Ek speel in ’n paar toernooie elders in die wêreld, maar hierdie bly my eerste prioriteit.”

Hy gee ook die versekering dat die Proteas se gesukkel nie aan ’n tekort aan ywer toegeskryf kan word nie.

“Ons almal probeer baie hard, ons oefen hard en ons wil wen, ons wil goed vaar vir ons land.

“Dit is moeilik vir mense om te glo ons is nie ver van ’n goeie vertoning af nie.”

Hy sê die storie van sy WB-toernooi verskil nie veel van die res van die kolflys s’n nie. Sy tellings van 38, 31, 36 en 31 is simptomaties van die groter Protea-kwaal.

“Ek voel soos die res van die kolflys, dat ek myself inspeel en dan my paaltjie verloor,” sê hy.

“Ek is nie gekies vir die eerste wedstryd nie en toe ek inkom vir die tweede wedstryd, wou ek graag ’n verskil maak. Ek het vier keer verby 30 gevorder – twee kere was dit aan die einde van die beurt en toe moes ek probeer om die lopietempo op te jaag, maar die ander twee kere het ek gevoel ek kon groot beurte speel.

“Dit is net teleurstellend. Ons het nie genoeg 100-vennootskappe behaal nie.”

Faf du Plessis, die Protea-kaptein, het Sondag gesê die span sukkel met selfvertroue, maar Miller glo persoonlik nie dit is sy grootste probleem nie.

“Dit voel nie of my selfvertroue laag is nie, vir my gaan dit oor uitvoering. Ek hoor die laaste paar weke baie oor selfvertroue, maar ek dink dit is anders vir elke speler.

“Op die hoogste vlak is daar baie min ruimte vir foute. ’n Honderdste van ’n sekonde hier en daar en sake is heeltemal anders.”

Miller sukkel om so verwoestend soos altyd te wees, maar hy weet nie waarom nie.

“Ek weet nie regtig waarom ek nie die grenstou met soveel reëlmaat oorsteek nie. Dit kom seker ook op swak uitvoering neer.”

Miller was ook deel van die groep wat in 2015 in die WB-halfeindstryd teen Nieu-Seeland verloor het. Hy sê dié keer is die pyn anders. “Toe was ons langer in die wedloop.”

Die Proteas is dalk uit die wedloop, maar hulle moet nog twee wedstryde speel – Vrydag teen Sri Lanka in Durham, en volgende Saterdag teen Australië in Manchester.

Die span sal gou moet hergroepeer as hy ’n tikkie verlore aansien wil herwin. Anders gaan dit twee bitter lang weke word.