Engeland se kaptein, Eoin Morgan (148, 71 balle, 4x4;17x6), het gister gewys niks skort met sy rug nie toe hy met die meeste sesse nóg in ’n kolfbeurt in ’n eendagwedstryd losgetrek het in sy land se Wêreldbeker-oorwinning van 150 lopies oor Afganistan in Manchester.

Die gasheer se 397/6 was die hoogste totaal tot nog toe in vanjaar se toernooi. Afganistan is tot 247/8 beperk.

Vooraf was daar kommer oor Morgan, wat met ’n rugspasma gesukkel het. Hy het sy honderdtal van net 57 balle aangeteken – die vierde vinnigste in ’n WB-toernooi.Afganistan se draaier Rashid Khan is vir 110 lopies in sy nege boulbeurte gestraf.

Net Australië se Mick Lewis – 113 lopies in 10 beurte – in die beroemde 438-wedstryd teen die Pro­teas op die Wanderers, het al meer lopies as dit in ’n eendagwedstryd afgestaan. – Sportredaksie

Die vinnigste WB-honderdtalle

50 balle: Kevin O’Brien (Ierland t. England, Bangalore, 2011)

51 balle: Glenn Maxwell (Australië t. Sri Lanka, Sydney, 2015)

52 balle: AB de Villiers (Suid-Afrika t Windies, Sydney, 2015)

* Vinnigste honderdtal ooit in ’n eendagwedstryd:

31 balle: AB De Villiers (Suid Afrika t. Windies, Johannesburg, 2015)