Eoin Morgan was Sondagaand soos ’n kind wat ’n splinternuwe speelding gekry het.

“Ek kan dit steeds nie glo nie, dit is waarom ek dit die heeltyd saam met my ronddra,” het Engeland se kaptein gesê en na die Wêreldbeker-trofee langs hom op die nuuskonferensietafel gewys.

Hy kon die trofee eenvoudig nie uit sy sig laat nadat sy span dit in die mees dramatiese eendagwedstryd van alle tye verower het nie.

“Vir my, die span en almal wat oor die laaste vier jaar betrokke was, beteken hierdie absoluut alles. Al die beplanning, al die harde werk, die toewyding en dan ’n bietjie geluk vandag, het ons oor die wenstreep gekry,” het Morgan gesê ná die sege in die eindstryd oor Nieu-Seeland.

Sport kom soms op millimeters neer. Vandag kon dit enige kant toe gegaan het, maar ek is dankbaar dit het ten goede vir ons uitgewerk.

Die eindstryd het gelykop geëindig ná 50 beurte én ’n superboulbeurt. Engeland het uiteindelik gewen omdat hy meer grenshoue as die Kiwi’s geslaan het.

“Ek het vroeër baie emosioneel gevoel. Dit was ’n buitengewone dag. Dit was die ongelooflikste krieketwedstryd, met niks wat die spanne van mekaar kon skei nie.

“Sport kom soms op millimeters neer. Vandag kon dit enige kant toe gegaan het, maar ek is dankbaar dit het ten goede vir ons uitgewerk.”

Engeland se briljante veelsydige speler Ben Stokes het die eindstryd vir hulle geswaai. Eers met ’n beurt van 84* en toe met 7* in die superboulbeurt.

“Hy is bykans ’n supermens,” het Morgan oor Stokes gesê.

“Hy het die span en die kolflys gedra. Ek weet sy vennootskap met Jos Buttler was uitstaande, maar om saam met die laerorde te kolf soos wat hy gedoen het, was uitsonderlik.

“Die atmosfeer, die emosie wat deur die hele wedstryd geheers het, het hy skitterend hanteer.

“Hopelik sal al die kinders wat by die huis gekyk het, probeer om die volgende Ben Stokes te wees.”

Vir Stokes was dit ’n sprokies-ommekeer. In 2016 se eindstryd van die T20-Wêreldtoernooi teen die Windies in Kolkata, is hy vir vier agtereenvolgende sesse gepiets in die laaste boulbeurt van die wedstryd. Dit het Engeland die titel gekos.

Hy was in 2017 in ’n vuisgeveg buite ’n nagklub betrokke wat hom lank langs die grenshou gehou het. Nou is hy Engeland se held.

“Wat in Kolkata gebeur het, sou baie mense se loopbaan beëindig het. Maar hy het opgestaan,” sê Morgan.

Die geluksgodin het ook haar deel gedoen om Engeland oor die wenstreep te help. In die laaste boulbeurt het die Engelse 15 lopies benodig.

Hy is bykans ’n supermens. Hy het die span en die kolflys gedra.

Stokes het ’n ses geslaan, voordat hy die volgende bal na diepmiddebaan gespeel en laat spaander het vir twee lopies.

Hy moes duik om die tweede lopie te voltooi en die ingooi van Martin Guptill het op wonderbaarlike wyse sy kolf getref en vir vier lopies gerol. Die uiteinde was dat ses lopies toegeken is – die twee wat gehardloop is en die vier “oorgooi-lopies”.

Die voormalige skeidsregter Simon Taufel het intussen gesê daardie stukkie spel moes net vyf lopies werd gewees het, omdat die kolwers nie gekruis het vir die tweede lopie toe die bal ingegooi is nie. Ingevolge die spel se reëls sal die tweede lopie wat gehardloop is, slegs tel as die kolwers reeds gekruis het.

Dit was egter so ’n bisar voorval, en wedstryd, dat die skeidsregters, Kumar Dharmasena en Marais Erasmus, onmoontlik enige skuld kan kry.

Morgan sê hy het aanvanklik nie ’n idee gehad wat daar gebeur het nie.

“Hy (Stokes) het geduik en daar was stof oral en die bal het weggespat. Die Swartpette het rondgestaan en gevra: ‘Wat gaan aan?’

“Ek het nie feesgevier nie, want dit is nie iets wat jy vier nie – of altans nie iets wat ék vier nie, want dit kon net so maklik met ons gebeur het.”

Was dit die geluk van ’n Ier wat die wedstryd vir hulle beklink het?

“Allah was ook saam met ons, het Adil (Rashid, Engeland se bybreekbouler) gesê,” het Morgan, wat in Dublin gebore is, geskerts.

Hy het sy medelye met Nieu-Seeland uitgespreek.

“Hulle was uitstaande deur die hele toernooi. Die feit dat die trofee langs my sit... soos ek sê, geluk was aan ons kant vandag.”