Die vorige keer dat die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland beslis is, in 1999, was Suid-Afrika se veelsydige spelers sy grootste bate.

Lance Klusener is immers as die Speler van die Toernooi aangewys.

Maar voordat vanjaar se toernooi begin het, het Protea-ondersteuners gewonder wáár ’n volgende Klusener of Jacques Kallis of Shaun Pollock vandaan sou kom.

Nou is daar nie net een nie, maar twee veelsydige spelers wat besig is om as sterspelers na vore te tree.

“Andile (Phehlukwayo) en Chris (Morris) is besig om goeie, bestendige vertonings te begin lewer,” het Faf du Plessis, die Protea-kaptein, Saterdag gesê ná die span se oorwinning oor Afganistan in Cardiff.

Phehlukwayo is nou al geruime tyd Suid-Afrika se eerste keuse op nr. 7, maar Morris was lank nie eens in die prentjie nie. Hy het die groep as ’n plaasvervanger vir die snelbouler Anrich Nortjé gehaal.

Sedertdien het hy skitterende vertonings gelewer en reeds ses paaltjies teen ’n gemiddeld van 20.33 lopies per paaltjie platgetrek. Dít terwyl hy slegs 4.66 lopies per boulbeurt lek.

“Ek is baie beïndruk met Morrie. In sy eerste paar weke terug in die span was hy nie op sy beste nie, maar hy het dit heeltemal omgekeer,” sê Du Plessis.

“Hy boul regtig goed in oefeninge, hy is honger, hy is bestendig . . . Dit is iets wat nie altyd daar was nie, so dit is goeie tekens vir hom. Hy sit die een ná die ander goeie vertoning in.”

’n Tekort aan bestendigheid was al gereeld in sy loopbaan Morris se doodsteek. Hy het die vermoë om ’n wedstryd met die kolf of bal te wen, maar hy kon dit nooit gereeld genoeg doen nie.

Morris skryf sy bestendige goeie vertonings tot dusver in die toernooi aan doelgerigtheid toe.

“Daar is nou minder wurms in my kop op ’n krieketveld. Ek wil daardie golf ry,” sê Morris, wat Saterdag geskitter het met 3/13 in 6.1 boulbeurte.

Hy boul nou met meer ritme, sê hy.

“Ek het hard saam met Ottis gewerk in die laaste twee weke. Ons het iets in my aanloop gekry, en dit ’n bietjie verander. Dit gee vir my baie meer ritme.

“Die taak wat Ottis aan my toevertrou het, is duidelik uiteengesit. Daardie duidelikheid help my baie.”

Hy het met die kolf ’n belangrike beurt van 42 teen Indië gespeel, wat die Proteas ’n skraal buitekans op ’n oorwinning gegee het.

Andile Phehlukwayo lê die langsteel teen Afganistan in. Foto: Getty Images

Morris se vennoot Phehlukwayo was Suid-Afrika se beste speler tot dusver in die toernooi. Du Plessis is dit eens.

“Ja, hy was baie goed tot dusver. Hy kry paaltjies in elke wedstryd. Ek dink ook hy het ’n tree vaart bygekry. Hy boul nie vinnig nie, maar dit is ook nie floaty nie.

“Hy het meer intensiteit, hy tref die blad hard.”

Phehlukwayo sê hy werk al lank om daardie bykomende vaart te kry.

“Ek het lank gesoek vir daarna, maar ek bevind my nou meer gereeld op die fisio se tafel,” skerts hy.

“Ek probeer net om tot die span by te dra. Soos ek gesê het, in ons boulaanval gaan kolwers my waarskynlik teiken.

“Dit is ’n sterkpunt, want sodoende kan ek ook paaltjies plattrek.”

Hy het reeds ses paaltjies teen ’n gemiddeld van 25.66 lopies per paaltjie platgetrek. Hy staan gemiddeld slegs 4.46 lopies per beurt af.

Phehlukwayo is ’n veelsydige bouler wat op baie variasies kan staat maak. Volgens hom was dit iets wat hy moes aanleer.

“Ek het vinniger geboul toe ek jonger was, maar toe ek ’n bietjie spoed verloor, moes ek nuwe maniere vind om paaltjies plat te trek.”

Sy kolfwerk lyk ook goed en hy het die wedstryd Saterdag beklink met ’n reuse-ses wat bykans in die Taff-rivier beland het. Hy het reeds 83 lopies in vier beurte teen ’n gemiddeld van 27.66 aangeteken.

“Ek voel goed met die kolf ook. Nou gaan dit net daaroor om geestelik reg ingestel te wees, dan is ’n groot beurt net om die draai.”