Aan die humor-front het die Protea-kamp beslis niks ingeboet toe Chris Morris vir Anrich Nortjé in die Wêreldbeker-groep vervang het nie.

Chris Morris vier die paaltjie van Pakistan se Imad Wasim in die spanne se T20-reeks vroeër vanjaar in Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

“Lance Klusener was ’n beter kolwer as wat ek is. Ek is nou weer aantrekliker as hy,” was Morris se pittige protes toe ’n joernalis hom Donderdag wou vergelyk met die veelsydige speler, wat Suid-Afrika se troefkaart by die WB-toernooi in 1999 in Engeland was.

Hy kan nou lag, maar die laaste paar maande was vir die 32-jarige Morris geen grap nie.

Baie kenners meen hy moes van die begin af in die WB-groep gewees het, maar sy naam was nie een van die 15 wat Linda Zondi, die keurderbaas, in April uitgelees het nie. Toe kraak Nortjé sy duim.

“Dit is nooit lekker om iemand te sien seerkry nie. My hart was stukkend vir Anrich,” het Morris Donderdag in Pretoria gesê.

Jy wil nie net hier wees om getalle vol te maak nie.

Nortjé se spreekwoordelike dood, was Morris se brood. Dis vanweë dié snelbouler se ontydige besering, dat Morris Donderdag by die hoëprestasiesentrum in Pretoria met sy spoggerige sonbril kon staan en tjoppies braai vir sy spanmaats en die media.

“Dit is wonderlik om hier te wees. My kans het op ’n sekere manier gekom, maar ek gaan dit met albei hande aangryp.

“Jy wil nie net hier wees om getalle vol te maak nie. Jy wil bewys jy moes van die begin af hier gewees het.”

Die Morris-kwessie was een van die groot raaisels in die aanloop tot die aankondiging van die groep. Sy naam blyk bykans ’n taboe by Zondi-hulle te gewees het wanneer die veelsydige speler-kandidate bespreek is.

“In Januarie, in die T20-reeks teen Pakistan, het ek ’n eerlike gesprek met die keurders gehad.

Chris Morris staan die media Donderdag in Pretoria te woord. Foto: Gallo Images

“Ek wou duidelikheid hê, want daar was baie geraas oor die WB-groep. Die duidelikheid wat hulle vir my gegee het, was dat ek nie in die prentjie was nie. Ek was agter ’n paar ander veelsydige spelers in die tou,” het Morris Donderdag vir die eerste keer onthul.

“Ek kon dit verstaan en ek kon die keurders se eerlikheid aanvaar. In daardie stadium was daar verskeie ouens wat baie beter as ek vertoon het.

“Dit het tog ’n rukkie geneem om dit te aanvaar, maar ek is nie die eerste ou wat uit ’n Wêreldbeker-groep gelaat word nie en ek sal nie die laaste wees nie.

“Ek het geen kwade gevoelens of woede in my omdat ek aanvanklik weggelaat is nie.”

Hy sê hy kon aanvaar dat sy wisselvalligheid teen hom getel het. Dít skryf hy daaraan toe dat hy die spel met tye “oordink” het.

Nou wil hy niks oordink nie. Nou wil Morris net speel en die spel geniet.

Nou het ons weer ’n kans om geskiedenis te maak. Op ’n goeie manier.

Ottis Gibson, die Protea-breier, het vroeër vandeesweek daarna verwys dat Morris nie net ’n veelsydige speler is nie, maar eintlik ook ’n skitterende naatbouler.

Die speler sê sy kerntaak is dalk boulwerk, maar “ek kan ’n krieketkolf vashou en ek voel ek kan skade aanrig met dít wat ek met die kolf kan doen”.

Net soos wat Klusener in 1999 gemaak het, toe die toernooi die vorige keer in Engeland aangebied is.

Morris, toe maar 12 jaar oud, onthou die toernooi nie vir die berugte halfeindstryd teen Australië toe Allan Donald in die doodsnikke uitgehardloop is en Suid-Afrika sodoende uitgeboender is nie.

“Ek sal waarskynlik die wedstryd teen Pakistan meer onthou – die een toe Klusener vir (die gevreesde snelbouler) Shoaib Akhtar aangevat het.

“In 1999 het ons naby gekom. Nou het ons weer ’n kans om geskiedenis te maak. Op ’n goeie manier,” sê Morris met ’n breë glimlag.