Chris Morris was nog altyd een van die reserwespelers vir Suid-Afrika se Wêreldbeker-groep en daarom was hy die logiese keuse om Anrich Nortjé in die groep te vervang.

Linda Zondi, die sameroeper van die nasionale keurkomitee, het Dinsdag lig gewerp op die besluit om Morris by die groep in te sluit nadat Nortjé weens ’n duimbesering aan Suid-Afrika se groep van uitverkore spelers onttrek is.

Chris Morris is by die Wêreldbeker-groep ingesluit nadat Anrich Nortjé hom weens ’n gekraakte duim aan die groep moes onttrek. Foto: Gallo Images

“Chris is aanvanklik uit die groep gelaat omdat ons na blote spoed gekyk het toe ons op ons vier snelboulers besluit het,” het Zondi by navraag verduidelik.

“Daar is toe besluit om vir Anrich, Kagiso Rabada, Dale Steyn en Lungi Ngidi te kies, wat almal vinniger as 140 km/h kan boul.

“Ons weet Chris kan ook so vinnig boul, maar ons sien Anrich as ’n beter bouler as hy, want hy is ’n spesialis-bouler, terwyl Chris ’n veelsydige speler is.”

Zondi sê Morris het met Andile Phehlukwayo meegeding om ’n plek in die groep as ’n veelsydige speler, aangesien hulle dieselfde tipe rol in ’n span vervul. Phehlukwayo is die eerstekeuse- veelsydige speler met boulwerk as sy sterkpunt. Dwaine Pretorius is die voorkeur-speler as dit kom by veelsydige spelers wie se sterkpunt hul kolfwerk is.

“Andile is ons eerstekeuse-veelsydige speler en Chris is dus weggelaat,” sê Zondi.

“Maar nou, met Anrich wat beseer is, was dit die ideale kans om Chris te betrek. Hy kan teen 140 km/h boul en sy kolfwerk is ook verwoestend.”

Dr. Mohammed Moosajee, die Proteas se spandokter, het Dinsdag in Johannesburg gesê Nortjé het sy regterduim gekraak tydens ’n oefensessie vandeesweek in Port Elizabeth.

Rabada, wat verlede week teruggekeer het van die Indiese Premierliga, het ’n rugskeet, maar die Proteas is vol vertroue dat hy gereed sal wees vir die WB-toernooi.

“Met KG is ons ekstra versigtig, omdat hy voorheen al ’n rugbesering gehad het wat hom lank langs die kantlyn gehou het en omdat hy so ’n belangrike lid van die span is,” sê Moosajee.

Maar nou, met Anrich wat beseer is, was dit die ideale kans om Chris te betrek. Hy kan teen 140 km/h boul en sy kolfwerk is ook verwoestend.
Linda Zondi

“Ons is vol vertroue dat hy betyds sal herstel, maar ons wil vir hom soveel as moontlik tyd gee.”

Craig Govender, die Proteas se fisioterapeut, sê die baie reis en speel in die IPL het ’n invloed gehad op Rabada se rugbesering.

“Die binnelandse vlugte daar is nie altyd die gemaklikste nie en KG is ’n lang ou, so dit het ’n invloed,” sê Govender.

Steyn, wat ook vroeër van die IPL teruggekeer het met ’n skouerbesering, is ook op die herstelpad.

Hy sal volgende week weer by die Proteas se oefenkamp ondersoek word, maar die SA spanbestuur is ook hoopvol dat hy betyds fiks sal wees vir die eerste wedstryd op 30 Mei teen Engeland op die Oval.

Volgens Moosajee het Ngidi (sybesering), JP Duminy (skouerbesering) en Tabraiz Shamsi (rugbesering) almal volkome herstel.

Die Proteas trek Sondag in Kaapstad saam vir ’n weeklange oefenkamp, voordat hulle op 19 Mei na Engeland vertrek.