As enigiemand ooit twyfel in die waarde wat Jacques Kallis tot die Proteas se eendagspan toegevoeg het, hoef hulle slegs te kyk na die debatte oor die samestelling van die span wat sedert sy uittrede heers.

Mense sê gereeld Kallis het as twee spelers getel. Vir sommiges klink dit te dik vir ’n daalder, maar sien dit so – met Kallis in die span, het jy sewe kolwers en vyf boulers. Sonder Kallis – of ’n totale veelsydige speler naastenby in sy klas – moet die Proteas nou kies tussen óf sewe kolwers en vier boulers óf ses kolwers en vyf boulers.

Kallis kon die span haal as ’n kolwer óf ’n bouler en sedert sy uittrede is die Proteas se spanbalans in sy peetjie in.

Op die vooraand van die Wêreldbekertoernooi in Engeland is dit g’n uitsondering nie. Chris Morris is vroeër die week as ’n plaasvervanger vir Anrich Nortjé by die groep gevoeg. In hom, Andile Phehlukwayo en Dwaine Pretorius, het Suid-Afrika nou drie veelsydige spelers in die groep.

Die vraag is: Hoe span jy hulle in? En wie kies jy as jy net met een volhard?

Die samestelling van Suid-Afrika se span was die laaste paar jaar ’n groot gesprekspunt.

Andile Phehlukwayo reis na Engeland as Suid-Afrika se voorkeur- veelsydige speler. Foto: Gallo Images
Chris Morris is vandeesweek by die Proteas se WB-groep ingesluit nadat Anrich Nortjé beseer is. Foto: Gallo Images
Dwaine Pretorius word gesien as ’n veelsydige speler wie se sterk punt sy kolfwerk is. Foto: Gallo Images

By 2015 se Wêreldbekertoernooi in Australië en Nieu-Seeland het die Proteas verkies om met sewe kolwers en vier voorslagboulers te speel. Die vyfde bouler se tien beurte is dus tussen deeltydse boulers soos JP Duminy, Farhaan Behardien en selfs AB de Villiers verdeel.

Die gevolg daarvan is dat jou teenstanders geen kanse teen die vier spesialisboulers hoef te waag nie, want hulle kan die bietjie-boulers teiken.

In ’n taktiese skuif, wat as ’n ietwat oordrewe teenreaksie hierop gesien sou kan word, het die Proteas ná daardie WB-toernooi besluit om hul span met soveel as moontlik veelsydige spelers te laai en dus ’n lang kolflys te hê, met spelers in die posisies ses, sewe en agt wat kan kolf én boul.

Spelers soos David Wiese, Wayne Parnell, Chris Morris, Phehlukwayo, Wiaan Mulder en Pretorius het almal kans gekry om te wys wat hulle kan doen. Soms is soveel soos drie van hulle in dieselfde elftal gekies.

Die probleem was dat geeneen van dié veelsydige spelers vir jou gee wat Kallis het nie. Daar was steeds boulbeurte wat die teenstanders kon teiken. Daar was ook steeds ’n lang stert, want nie een van daardie spelers sal die Proteas se topses as ’n kolwer alleenlik haal nie.

Proteas
Proteas
Proteas
Proteas
Proteas

Toe besluit die Proteas verlede jaar om dié strategie te verruil vir ’n nuwe een – om vier voorslagboulers, naamlik Kagiso Rabada, Dale Steyn, Lungi Ngidi en Imran Tahir, te kies en een veelsydige speler op nr. 7 in te span.

Die vereiste is dat dié veelsydige speler tien boulbeurte op sy eie moet kan afstuur, terwyl hy ook behendig met die kolf moet wees. Die veelsydige speler se boulbeurte sal wel soms met iemand soos Duminy gedeel word, maar dit moet nie uit noodweer wees nie, liefs vir taktiese afwisseling.

Dié skuif in benadering is gedoen omdat Suid-Afrika ’n oorvloed van goeie boulers het, ’n sterk punt wat benut moet word, liewer as wat dit ingeboet moet word ten gunste van meer “half” veelsydige spelers.

Phehlukwayo het na vore getree as die eerste keuse op nr. 7, want hy is ’n slinkse bouler en het homself al as ’n betroubare kolwer saam met die stert bewys.

Die keurders het besluit om Pretorius as die tweede veelsydige speler saam te neem.

Morris is nou ook by die groep ingesluit. Dit laat Suid-Afrika met drie veelsydige spelers.

Die Proteas sal nie met minder as ses voorslagkolwers speel nie, so die vraag is of hulle met twee veelsydige spelers en drie voorslagboulers moet speel, en of hulle moet volhard met die plan om een veelsydige speler en vier boulers in te span.

Alles dui daarop dat Phehlukwayo vir eers die enigste veelsydige speler in die elftal sal wees. Suid-Afrika wil nie sy sterk punt – sy boulkrag – verwater om ’n langer kolflys te skep nie.

In die afwesigheid van ’n soort Kallis-speler, wat in die topvyf kan kolf en sy tien beurte kan boul, meen die Proteas hul beste kans op sukses is om spanne met die kartetse van Rabada en kie om te dop en dan met hul ses voorste kolwers teikens te jaag en te stel.

Morris bied die span gewis meer opsies, maar of hy ooit vir ’n belangrike wedstryd saam met Phehlukwayo of Pretorius gaan speel, is te betwyfel.

Die negatiewe aspek van die Proteas se beoogde wedstrydplan is dat hulle met ’n lang stert gaan speel. Die denkwyse is wel dat dít nie sal saakmaak as die voorslagboulers teenstanders wegblaas nie.

As dít nie gebeur nie, is daar altyd die versekeringspolis van Morris.