Die Internasionale Krieket (IKR) het nie een Suid-Afrikaner in sy amptelike Span van die Toernooi gekies ná afloop van die Wêreldbeker-toernooi in Engeland en Wallis nie.

Netwerk24 is dit met die IKR eens dat nie een Protea plek in die toernooi se spogspan verdien nie. Maar ons verskil wel met een keuse van die IKR. Hoe sal jou uitsoekspan lyk?

IKR se span:

Jason Roy (Engeland), Rohit Sharma (Indië), Kane Williamson (k, Nieu-Seeland), Joe Root (Engeland), Shakib Al Hasan (Bangladesj), Ben Stokes (Engeland); Alex Carey (paaltjiewagter, Australië), Mitchell Starc (Australië), Jofra Archer (Engeland), Lockie Ferguson (Nieu-Seeland), Jasprit Bumrah (Indië).

Netwerk24 se span:

Rohit Sharma (648 lopies teen 81.00): Sharma timmer ’n allemintige vyf honderdtalle in nege beurte. Hy help om Indië tot in die halfeindronde te voer.

David Warner (647 lopies teen 71.88): Toegegee, Roy, wat die IKR se span bo Warner gehaal het, het sy span gehelp om weer op koers te kom nadat hy van ’n besering teruggekeer het. Maar Warner het sy span gehelp om die halfeindronde te haal nadat hulle die laaste 12 maande in sy afwesigheid erg kleigetrap het. Dít doen hy ook terwyl hy hom in elke wedstryd die gramskap van die Engelse skare op die lyf loop.

Kane Williamson (kaptein, 578 lopies teen 82.57): Die Swartpette se kaptein is die versinnebeelding van sportmanskap. Ondanks die ongelukkige wyse waarop sy span die eindstryd verloor, maak hy geen verskonings nie. Hy is die gom in sy soms wankelrige kolflys – in tien van hul 11 wedstryde moes hy op nommer drie instap voordat sy span 35 lopies op die telbord het. Hy wen die wedstryd teen Suid-Afrika eiehandig.

Joe Root (556 lopies teen 61.77): Die spil waarom die Engelse kolflys draai. Hy het dalk nie soveel plofkrag soos sy geroemde spanmaats nie, maar help standvastigheid verleen. Hy teken sy lopies dodelik vinnig aan, sonder dat ’n mens dit agterkom. Sy treftempo vir die toernooi is 89.53.

Bangladesj se Shakib al Hasan het hom as die mees veelsydige speler in die Wêreldbeker-toernooi onderskei. Foto: Getty Images

Shakib al Hasan (606 lopies teen 86.57, 11 paaltjies teen 36.27): Die Tiere se sleutelspeler het slegs in een wedstryd nie verby 50 gevorder nie. Toe het hy boonop 41 lopies aangeteken teen Australië. Hy het met die bal ook vyf paaltjies teen Afganistan platgetrek. Hy dra sy span.

Ben Stokes (465 lopies teen 66.42, sewe paaltjies teen 35.14): Hy wen bykans manalleen die eindstryd vir Engeland. Hy is die versinnebeelding van deursettingsvermoë en onwrikbare selfvertroue. Hy hou altyd aan veg, al kom hy soms in met sy span in die knyp. Moet ook nie daardie vangskoot in die eerste wedstryd teen Suid-Afrika vergeet nie.

Alex Carey (375 lopies teen 62.50, 20 spelers uitgekry agter die penne): Die Aussie-paaltjiewagter ontwikkel in ’n laerorde-rots vir sy span. Die voormalige Aussie Rules-speler beskik oor skitterende houespel, maar kan ook met kragspel grenshoue slaan. Hy wys baie durf om in die halfeindstryd voort te kolf nadat hy deur Archer teen die kop raakgeboul is.

Die Australiese snelbouler Mitchell Starc was vir ’n tweede agtereenvolgende Wêreldbeker-toernooi een van die grootste uitblinkers met die bal. Foto: Getty Images

Mitchell Starc (27 paaltjies teen 18.59): Eindig weer, soos in 2015, as die beste bouler van die toernooi. Die linkshandige sneller was puik regdeur die toernooi, maar loop ongelukkig deur in die halfeindstryd teen Engeland. Sy streepbal om van Stokes ontslae te raak, is sekerlik die aflewering van die toernooi.

Jofra Archer boul in die eindstryd. Foto: Reuters

Jofra Archer (20 paaltjies teen 23.05): Archer is ’n Engelse suksesverhaal. Hy het kort voor die toernooi eers gekwalifiseer om vir Engeland te speel, maar hy ontwikkel in een van hul belangrikste spelers. Hy wys in die eindstryd se superboulbeurt senuwees van staal.

Lockie Ferguson (21 paaltjies teen 19.47): Ferguson is ’n openbaring vir Nieu-Seeland en sy vaart was ’n groot wapen as eerste aflosbouler vir die Swartpette. Daardie streepbal waarmee hy van Faf du Plessis ontslae geraak het, sal nog lank deur die Protea-kaptein onthou word.

Jasprit Bumrah (18 paaltjies teen 20.61): Bangladesj se Mustafizur Rahim kon ook dié plek kry, met 20 paaltjies in die toernooi. Bumrah dra egter by tot die sukses van sy span, hy help hulle tot in die halfeindronde. Hy staan slegs 4.41 lopies per boulbeurt af, die mees ekonomiese syfers van enige van die top-40 paaltjievrate.