Lungi Ngidi kan Saterdag in Cardiff sy terugkeer vir die Proteas in hul vyfde Wêreldbeker-wedstryd teen Afganistan maak.

Lungi Ngidi sal slaggereed wees om Afganistan Saterdag in Cardiff te pak. Foto: Getty Images

Dié snelbouler het sy dyspier in Suid-Afrika se tweede wedstryd teen Bangladesj op die Oval in Londen seergemaak en moes die veld verlaat nadat hy slegs vier boulbeurte afgestuur het.

Faf du Plessis, die Protea-kaptein, het ná Maandag se afgelaste wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande in Southampton gesê Ngidi was baie naby daaraan om vir die stryd teen die Windies reeds gereed te wees.

“Ons wou gehad het hy moet gereed wees vir die Windies, bloot omdat elke wedstryd vir ons soos ’n reg-of-weg-wedstryd voel,” sê Du Plessis.

“Lungi het nie baie boulbeurte in die toernooi afgestuur voordat hy ’n besering opgedoen het nie.”

In die eerste wedstryd teen Engeland het Ngidi 3/66 in tien boulbeurte geneem en teen Bangladesj 0/34 in vier.

“Hy was op die randjie daarvan om te kan speel. Ons het hom dus uitgelaat omdat hy nog nie baie beurte afgestuur het nie,” sê Du Plessis.

“Ons voel dit is belangriker vir hom om nog drie of vier dae te hê om sy boullading op te bou, sodat hy agt, nege en dan tien beurte boul.

“Ons kan hom nou dadelik inspan in die volgende wedstryd.”

Dit is goeie nuus vir Suid-Afrika, wie se boulspens verlede week bra yl gelyk het nadat Dale Steyn met ’n skouerbesering moes terugkeer na Suid-Afrika. Met Ngidi wat ook langs die grenstou was, is die Proteas genoop om vir Tabraiz Shamsi as ’n tweede draaier teen Indië te gebruik.

Beuran Hendricks, die linkshandige snelbouler wat vir Steyn vervang het, is Maandag in Shamsi se plek vir die wedstryd teen die Windies ingesluit.

Die Proteas sal dus Saterdag vir die eerste keer sedert die toernooi begin het, ’n volle groep van 15 fikse spelers hê om uit te kies.