Justin Langer (middel), afrigter van die Australiese span, staan sy spelers die naweek te woord tydens ’n oefensessie.Foto: Getty Images

Die afrigter van die Australiese krieketspan, Justin Langer, glo nie sy twee sterkolwers sal ontsenu word in die Wêreldbeker-toernooi in Engeland nie, al sal albei waarskynlik die teiken van hekelaars en gifpenne in die media wees.

Steve Smith en David Warner is albei terug in internasionale krieket nadat hulle lang skorsings uitgedien het weens hul aandeel in die berugte balpeuter-skandaal in Suid-Afrika.

Hulle sal aan die voorpunt van ’n gedugte Aussie-kolforde in die WB-toernooi wees en ook daarna in die toetsreeks om die As as staatmakers met die wilgerlat beskou word.

Warner word allerweë beskou as die meesterbrein agter “Sandpapergate” gedurende ’n toets teen die Proteas op Nuweland.

Hy en die kaptein, Smith, is vir ’n jaar geskors en die aanvangskolwer Cameron Bancroft vir nege maande nadat laasgenoemde die bal met ’n stukkie skuurpapier bygekom het.

Ná die skok en ongeloof in Australië oor die voorval, sê Langer hy verwag die twee kolwers sal vir “spesiale aandag” in die WB-reeks in Engeland uitgesonder word.

Dit kan dalk warm raak as die hekelaars ’n paar aanmerkings begin maak en die media dinge kwytraak, maar dit gaan nie warmer wees as 12 maande gelede nie.
Justin Langer

“Ons kan natuurlik nie die skare beheer nie. Maar wie weet, dit kan dalk warm raak as die hekelaars ’n paar aanmerkings begin maak en die media dinge kwytraak, maar dit gaan nie warmer wees as 12 maande gelede nie,” het Langer die naweek op ’n spansessie gesê.

“Een ding is seker, ek het nog nooit die twee ouens so gefokus en voorbereid gesien nie,” het Langer, wat ná die peuterskandaal as breier by Darren Lehmann oorgeneem het, bygevoeg.

“Albei het ’n swaar straf uitgedien, maar ons verwag steeds dat die messe geslyp sal wees vir die twee as ons in Engeland aanland.”

Smith se terugkeer tot die span vandeesmaand, in drie nie-amptelike opwarmwedstryde vir die WB-toernooi teen ’n Nieu-Seelandse elftal, is met onoorwonne beurte van 89 en 91 begroet.

Steve Smith, die man op wie se skouers die Aussies se WB-hoop rus. Foto: Getty Images

Warner, daarenteen, het 39 lopies aangeteken in een wedstryd, maar Langer is verheug oor die peil wat albei kolwers na die span bring.

“Ek het Steve teen Nieu-Seeland dopgehou . . . hy is letterlik ’n meesterlike speler en dis gerusstellend om hom terug in die span te hê.

“David het daardie kyk in sy oë. Jy kan sien hy is honger om ’n punt te bewys. Hy is ’n fantastiese speler, dinamies, met soveel energie. Dis wat ons van elke speler verwag.

“Albei het 12 maande gehad om te dink oor die foute wat begaan is. Ek is oortuig hulle is beter daaraan toe in terme van geestelike gehardheid en fokus onder geweldige druk. Niks kan hulle ontsenu nie,” het die breier gesê.