Faf du Plessis sukkel om tot verhaal te kom ná Suid-Afrika se halfeind-nederlaag in 2015 se Wêreldbeker-toernooi. Die Proteas het waardevolle lesse uit daardie toernooi geleer, sê hy. Foto: Getty Images

Die Protea-breintrust weet die kans is bitter skraal dat hulle al nege hul groepwedstryde in vanjaar se Wêreldbeker-kriekettoernooi gaan wen. Hulle weet ook dit is nie nodig nie.

“Ons het gepraat oor wat ons dink ons moet doen om die halfeindronde te haal. Ons het ’n getal in gedagte wat betref die wedstryde wat ons moet wen,” het Ottis Gibson, die Proteas se breier, voor die span se vertrek na Engeland gesê.

Faf du Plessis, die Protea-kaptein, is dit met Gibson eens.

“Dit gaan nie oor hoe jy by die halfeindronde uitkom nie, jy moet net daar uitkom. As jy die uitklopfase haal, kan enige span wen,” sê Du Plessis.

“Ek speel al lank toernooi-krieket en ek het baie lesse daaruit geleer. Oor die laaste dekade was Suid-Afrika ’n goeie span in reekse, maar by toernooie het ons gesukkel.

Ons moet net fokus op die klein goed – ons omgewing, hoe ons voorberei... Daardie dinge wat binne ons beheer is.
Faf du Plessis

“Ons moet net fokus op die klein goed – ons omgewing, hoe ons voorberei... Daardie dinge wat binne ons beheer is.

“As ons daarop fokus, sal die uitslae hopelik goed wees. Maar as dit nie is nie, moet ons kalm bly en steeds op daardie dinge fokus. Want dit is ’n lang toernooi.”

Du Plessis sê hy het veral een belangrike les geleer uit die Wêreldbeker-toernooi in 2015, toe Suid-Afrika op hartverskeurende wyse teen Nieu-Seeland in die halfeindronde verloor het.

“In 2015 het ons gevoel jy moet méér doen om ’n WB te wen. Ons het gevoel jy moet baie spesiaal wees.

“Vir die laaste jaar het ons daarop gefokus dat dít wat ons deur die seisoen gedoen het, goed genoeg is, want ons het teenstanders op ’n gereelde grondslag geklop.

“Jy hoef nie te voel jy moet Superman wees en 190 van 80 balle slaan, of 7/20 plattrek in ’n belangrike Wêreldbeker-wedstryd nie. Die lewe werk nie so nie.

Ottis Gibson, die Proteas se afrigter.

“Ons fokus daarop om die basiese take so goed as moontlik te doen. Hopelik, as ons dít doen, sal ons dié keer beter vaar in ’n toernooi-opset.”

Gibson beaam dit.

“Ons gaan Engeland toe om krieket te speel. Ek predik dit nou al vir twee jaar. Dit word verpak as die Wêreldbeker-toernooi, maar dit bly krieket,” sê Gibson.

“Ons het ’n paar maande gelede teen Sri Lanka gespeel en nou gaan ons hulle net in Engeland aandurf. Verlede jaar het ons Australië in Australië geklop, Sri Lanka in Sri Lanka, en nou gaan ons net teen daardie spanne in Engeland speel – en hulle noem dit die Wêreldbeker.

“Dit bly krieket. As jy dít vergeet, kan jy struikel. Ons ken krieket. Ons gaan om krieket te speel.”