Ottis Gibson het AB de Villiers herhaaldelik gevra om nie sy internasionale loopbaan kort te knip nie.

Toe De Villiers die Protea-afrigter dus “die oggend van, of aand net voor” die aankondiging van die Wêreldbeker (WB)-groep bel om te hoor of daar ’n manier is waarop hy kon terugkeer, was dit te laat.

Gibson het Saterdag in Southampton, waar die Proteas Maandag teen die Wes-Indiese Eilande speel, meer lig gewerp op die nuus Donderdagoggend dat De Villiers aangebied het om die Proteas te verteenwoordig by die Wêreldbeker.

“AB het tydens die Indiese Premierliga met Faf gepraat en hom oor sy voornemens ingelig. Toe het Faf my gebel om my in te lig,” sê Gibson.

Die IPL het op 23 Maart begin. Die Protea-groep is op 18 April aangekondig.

Gibson sê hy en Du Plessis, wat toe nog die enigste mense in die Protea-binnekring was wat geweet het dat De Villiers moontlik sy internasionale uittrede tersyde wou stel, het toe reeds besluit dit is te laat. De Villiers het in Mei 2018 sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig.

Later het De Villiers Gibson ter elfder uur self gebel.

“AB het my gebel die oggend toe die groep aangekondig is, of die aand voor die tyd.”

Gibson was in Engeland, De Villiers in Indië ten tyde van dié oproep.

“Ek kan nie sy presiese woorde onthou nie, maar hy het gevra of daar enige kans is dat hy kon terugkom. Ek het gesê my onmiddellike gevoel is nee, dit is te laat, maar dat ek met KSA sou moes praat.

“Ek, Faf en die sameroeper van die keurpaneel (Linda Zondi) het almal besluit hy is te laat.”

Die gesprek tussen die afrigter, kaptein en Zondi het die dag van die spanaankondiging plaasgevind.

Ottis Gibson, die Protea-afrigter. Foto: Gallo Images

Gibson sê toe De Villiers verlede jaar sy aanvanklike besluit geneem het om uit te tree, het hy ook vir Gibson gebel.

“Ek dink nie jy moet iemand smeek om vir sy land te speel nie, maar ek het dit duidelik gestel dat ek dink hy maak ’n fout en hy kan ons help om die Wêreldbeker te wen,” sê Gibson.

“Hy het gesê hy wou tyd met sy familie bestee en dit was die einde daarvan. Daarna het hy verskeie kere gesê hy is tevrede met sy besluit.”

Volgens hom was die deur tot Desember vir De Villiers oop om terug te keer. Die vereiste was dat hy in die reekse teen Pakistan en Sri Lanka sou moes speel.

“Ek het hom verlede jaar op 12 Desember gesien by ’n Mzansi-superligawedstryd op SuperSport-park. Ek het iets gevra soos: ‘Is jy nou al klaar met hierdie uittrede-nonsens?’ Hy het geantwoord dat hy tevrede is met sy besluit en vir my was dit die einde van die storie.”

Om toe vyf maande later van De Villiers se U-draai te hoor, was dus ’n skok vir hom.

“Ons het aanbeweeg. Sedert hy uitgetree het, het ons elke eendagreeks gewen waarin ons gespeel het. Toe het niemand oor AB gepraat nie.

“Hy het sy besluit geneem. Ons as ’n span moet daarmee saamleef. Net so moet hy daarmee saamleef. Om dan die dag voor die tyd in te draai, is vreemd om die minste daarvan te sê.”

Die res van die WB-groep het middel Mei by die span se oefenkamp in Kaapstad van AB se aanbod gehoor.

Hulle is dus nie onverwags betrap toe die storie Donderdag uitgekom het nie.

“Niemand in die groep is geruk nie, dit is nie asof iemand dood is nie. Dit is ’n afleiding, maar die grootste afleiding is die feit dat ons nie baie goeie krieket speel op die oomblik nie.

“AB is nie hier nie. Die ouens wat hier is, verdien dit om hier te wees.

“Ek dink daar is baie meer mense wat wil hê AB moet hier wees as AB self. As AB hier wou wees, sou hy hier gewees het.”