Ottis Gibson se kop gaan waarskynlik rol, maar die Protea-afrigter dink nog nie aan sy toekoms nie.

“Ek het ’n kontrak tot September en ons sal daarna sien wat gebeur,” het Gibson gesê nadat Nieu-Seeland die Proteas Woensdag in Birmingham uit die Wêreldbeker-toernooi geboender het met ’n oorwinning van vier paaltjies.

Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof, het voor die toernooi gesê die Proteas moet minstens die eindstryd haal vir Gibson se kontrak om hernu te word. Dít gaan hulle gewis nie vermag nie.

Suid-Afrika sal heel moontlik dus met ’n nuwe afrigter op hul toer na Indië vertrek as KSA by sy oorspronklike voorwaardes gaan hou. Dié toer begin op 15 September met ’n T20-wedstryd in Dharamsala. Gibson se kontrak verstryk op 30 September.

Die gebore Barbadaan wil hom egter eers op die oorblywende wedstryde teen Pakistan, Sri Lanka en Australië toespits.

Ek wil graag sien dat ons minstens speel soos ons kan speel, want ons het dit ongelukkig nog nie gedoen nie.
Ottis Gibson

“Eers het ons nog drie wedstryde om te speel. Ek wil graag sien dat ons minstens speel soos ons kan speel, want ons het dit ongelukkig nog nie gedoen nie.”

Hulle is bitter teleurgesteld, want “ons het nie bereik wat ons wou toe ons by die huis weg is nie”.

Maar die Proteas het nog iets om voor te speel, belowe hy.

Hashim Amla is een van die Proteas wat in sy laaste WB-toernooi gespeel het.

“Daar is ouens in die groep wat in hul laaste WB speel, so ek is seker hulle sal die wêreldverhoog op ’n hoë noot wil verlaat. Daar is ook ’n paar jonges wat in toekomstige WB’s gaan speel, so hulle sal ook ’n stelling wil maak met hul spel.”

Gibson sê hy sal mooi moet dink voordat hy sê waarom die Proteas goed vaar in reekse buite die WB, maar in WB-toernooie sukkel.

“Ek vind dit wel verrassend, want ons het spelers van wêreldgehalte in ons kleedkamer. Ons speel ook goed in bilaterale reekse.

“Ek is ook teleurgesteld dat ouens hier in hul dop inkruip. Want ons plaas ’n groot premie daarop om positiewe krieket te speel en ’n wedstryd vorentoe te vat. Ons het dit in Sri Lanka gedoen, toe hulle met twee draaiers gespeel en ons tellings van meer as 300 opgestapel het.

“Hier het ons nie aggressiewe krieket gespeel nie. Ek sal moet gaan sit en kyk wat die rede daarvoor is.”

Wat hy wel weet, is dat ’n tekort aan lopies die span in dié toernooi lamgelê het. Nog nie een Protea-kolwer kon tot dusver naby aan ’n honderdtal kom nie.

“Dit kom daarop neer dat ons nie genoeg lopies kon aanteken nie. Ons het nie die boulaanval hier wat ons wou hê nie, so om daarvoor te vergoed moes ons meer lopies aanteken,” sê Gibson.

Ons het nie die boulaanval hier wat ons wou hê nie, so om daarvoor te vergoed moes ons meer lopies aanteken.
Ottis Gibson

“Jy kon vandag (Woensdag) sien hoe begeesterd die boulaanval was. As daar ’n paar meer lopies op die telbord was, was dit ’n ander storie.”

Kane Williamson, die Kiwi’s se kaptein, het Woensdag met ’n ongelooflike honderdtal gewys hoe belangrik dit is dat ’n span se ervare spelers na vore tree.

“Ons het goeie, ervare spelers in ons span ook, maar vir watter rede ook al, het hulle dit nog nie gewys in dié toernooi nie.

“Die probleem is dat tellings van in die 40’s en 50’s nie vir jou die toernooi gaan wen nie. Kane het gewys hoe lyk ’n groot beurt.”