Ottis Gibson hoop Krieket Suid-Afrika (KSA) kyk nie net vas in die Wêreldbeker-misoes wanneer die Protea-breier en die nasionale beheerliggaam eersdaags oor sy kontrak onderhandel nie.

Gibson se kontrak verstryk in September en sy werk is uiteraard in die gedrang nadat die Proteas slegs drie uit nege van hul Wêreldbeker-wedstryde kon wen. Thabang Moroe, KSA se uitvoerende hoof, het voor die toernooi gesê Gibson is aangestel met die mandaat om die Wêreldbeker te wen.

Dít het nie gebeur nie, maar die Barbadaan hoop die ander goeie werk wat hy in sy termyn verrig het, sal in sy guns tel.

“Natuurlik wil ek my werk behou, ek is mal oor my werk. Ons het reeds begin beplan vir ’n toer na Indië,” sê Gibson.

“Dit is vir my en my familie ’n baie groot voorreg dat ek Suid-Afrika afrig. Ons geniet dit baie om in Suid-Afrika te wees en ons hoop dit kan voortduur, maar ons sal sien.

“Natuurlik het ons ’n baie teleurstellende Wêreldbeker-toernooi gehad. As jy in isolasie na die Wêreldbeker kyk, sal jy meen verandering is nodig.

“Maar as jy kyk na wat die laaste twee jaar gebeur het, sal jy sien dat ons goeie dinge ook vermag het. Ons sal moet wag en sien of KSA na die hele prentjie kyk.”

Sedert Gibson die leisels in September 2017 by Russell Domingo oorgeneem het, het die Proteas 17 toetse gespeel, waarvan hulle 11 gewen en ses verloor het. Hulle het vyf toetsreekse gewen en twee reekse – een weg en een tuis teen Sri Lanka – verloor.

Hulle het 39 eendagwedstryde gespeel, waarvan hulle 23 gewen en 15 verloor het. Hulle het ses van hul sewe eendagreekse gewen en slegs die tuisreeks teen Indië verloor.

Onder sy breierskap het die span 15 T20-wedstryde gespeel waarvan hulle tien gewen en vier verloor het. Vyf T20-reekse is gewen en slegs twee verloor.

Hy sê van sy grootste suksesse was die toetsreekssege verlede jaar teen Australië in Suid-Afrika – die eerste sedert hertoetrede.

“Wat individue betref, was daar noemenswaardige vooruitgang by Lungi Ngidi en Kagiso Rabada. Rassie van der Dussen het ingekom en sy stempel op internasionale krieket afgedruk.”

Hy sê hoewel almal baie sleg voel oor die Wêreldbeker, is daar ’n ander laagtepunt wat hom nog seerder gemaak het.

Die land smag na ’n Wêreldbeker en ek verstaan dit nou beter as ooit, maar om daardie reeks teen SL te verloor het, met die span wat hulle gebring het en die span wat ons gehad het, maak net so seer.

“Ek voel steeds die toetsreeksnederlaag teen Sri Lanka op tuisbodem maak net so seer.”

Sri Lanka het vroeër vanjaar, met ’n span sonder groot name, die eerste subkontinent-span geword wat ’n toetsreeks in Suid-Afrika wen.

“Die land smag na ’n Wêreldbeker en ek verstaan dit nou beter as ooit, maar om daardie reeks teen SL te verloor het, met die span wat hulle gebring het en die span wat ons gehad het, maak net so seer.”

Gibson sê sy grootste uitdaging in die laaste twee jaar was tyd.

“Ek was by die vorige Wêreldbeker saam met Engeland (as hul boulafrigter). Dinge het nie reg verloop vir hulle nie (hulle is voor die kwarteindronde uitgeboender) en hulle het besluit verandering is nodig.

“Trevor Bayliss het daarna ingekom en het van 2015 tot nou gehad om ’n span te bou. Oor vier jaar kan jy sien wat hy met die span gedoen het.

“Ons het net 18 maande gehad om die span reg te kry.

“Dan het jy nog die uittrede van belangrike spelers gehad (AB de Villiers het verlede jaar in Mei sy skokuittrede uit die spel aangekondig).”

Hy glo met tyd kan die Proteas ook hul aggressiewe speelstyl verfyn.

Gibson sê hy het baie ondersteuning by KSA gekry, maar die beheerliggaam kon ook nie al sy wense waar maak nie.

“Ons wou hê ons spelers moes vroeër uit die Indiese Premierliga onttrek word vanjaar. Dit het nie gebeur nie. Kon dit ’n verskil (aan hul Wêreldbeker-vertonings) maak? Miskien.

“Australië het hul snelboulers uit die toernooi gehou, maar die situasie is anders, want Australië probeer nie R600 miljoen bespaar soos wat KSA doen nie.”

Hy is vroeër met die Engelse afrigtingspos verbind, aangesien Bayliss se kontrak ná die reeks om die As eindig. KSA en Gibson sal dus vinnig tot ’n vergelyk moet kom.