Toe AB de Villiers vir Ottis Gibson “die oggend van of aand net voor” die aankondiging van die groep vir die Wêreldbeker (WB) gebel het om te hoor of daar ’n manier is hoe hy ’n terugkeer kon maak, was dit te laat.

Ottis Gibson
AB de Villiers

Gibson, die Protea-breier, het gister in Southampton, waar die Proteas môre teen die Wes-Indiese Eilande speel, meer lig gewerp op die nuus wat Donderdagoggend gebreek het oor De Villiers se aanbod om die Proteas by die WB te verteenwoordig.

“AB het by die Indiese Premierliga met Faf (du Plessis, Protea-kaptein) gepraat en hom van sy voornemens vertel. Toe het Faf my gebel om my in te lig oor wat aangaan,” sê Gibson.

Die IPL het op 23 Maart begin. Die Protea-groep is op 18 April aangekondig.

Gibson sê hy en Du Plessis, wat toe nog die enigste mense in die Protea-binnekring was wat geweet het dat De Villiers moontlik sy internasionale uittrede tersyde wou stel, het toe reeds besluit dit is te laat.

De Villiers het in Mei 2018 sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig.

Later het De Villiers Gibson ter elfder ure self gebel.

“AB het my gebel die oggend toe die groep aangekondig is, of die aand voor die tyd.”

As hy hier wou wees, sóú hy hier wees

Toe dié oproep gemaak is, was Gibson in Engeland en De Villiers in Indië.

“Ek kan nie sy presiese woorde onthou nie, maar hy het gevra of daar enige kans is dat hy kan terugkom. Ek het gesê my onmiddellike gevoel is nee, dit is te laat, maar dat ek met KSA sou moet praat.

“Ek, Faf en die sameroeper van die keurpaneel (Linda Zondi) het besluit hy is te laat.”

Die gesprek tussen die afrigter, kaptein en Zondi het die dag van die spanaankondiging plaasgevind.

Gibson sê toe De Villiers verlede jaar sy aanvanklike besluit geneem het om uit te tree, het hy ook vir Gibson gebel.

“Ek dink nie ’n mens moet iemand smeek om vir sy land te speel nie, maar ek het dit duidelik gestel dat ek dink hy maak ’n fout en hy kan ons help om die Wêreldbeker te wen,” sê Gibson.

“Hy het gesê hy wou tyd saam met sy familie deurbring en dit was die einde daarvan. Daarna het hy verskeie kere gesê hy is tevrede met sy besluit.”

Volgens hom was die deur tot Desember vir De Villiers oop om ’n terugkeer te maak. Die vereiste was dat hy in die reekse teen Pakistan en Sri Lanka sou moes speel.

“Ek het hom verlede jaar op 12 Desember gesien by ’n Mzansi-superligawedstryd op SuperSport-park. Ek het iets gevra soos: ‘Is jy nou al klaar met hierdie uittrede-nonsens?’ Hy het geantwoord dat hy tevrede is met sy besluit en vir my was dit die einde van die storie.”

Om toe vyf maande later van De Villiers se ommeswaai te hoor, was dus ’n skok vir hom.

“Ons het aanbeweeg. Sedert hy uitgetree het, het ons elke eendag­reeks gewen waarin ons gespeel het. Toe het niemand oor AB gepraat nie.

“Hy het sy besluit geneem. Ons as ’n span moet daarmee saamleef. Net so moet hy daarmee saamleef.

“Om dan die dag voor die tyd om te swaai, is vreemd, om die minste te sê.”

Die res van die WB-groep het by die span se oefenkamp in Kaapstad in die middel van Mei van AB se aanbod gehoor.

Hulle is dus nie onverwags betrap toe die storie Donderdag gebreek het nie.

“Niemand in die groep is geruk nie, dit is nie asof iemand dood is nie. Dit is ’n afleiding, maar die grootste probleem is die feit dat ons nie baie goeie krieket speel op die oomblik nie.

“AB is nie hier nie. Die ouens wat hier is, verdien dit om hier te wees.

“Ek dink daar is baie meer mense wat wil hê AB moet hier wees, as AB self. As AB hier wou wees, sou hy hier gewees het.”