Pakistan het Woensdagaand sy kans om die halfeindronde van die Wêreldbeker-kriekettoernooi te haal aan die lewe gehou met ’n indrukwekkende oorwinning oor Nieu-Seeland op Edgbaston in Birmingham.

Dié nederlaag met ses paaltjies was die Kiwi’s se eerste.

Pakistan het Kane Williamson se span van die begin af op die agtervoet gehad met die 19-jarige hotklou-swaaibouler Shaheen Afridi wat met 3/28 die meeste skade aangerig het.

Die Kiwi’s het gesukkel en toe Williamson uit is op 83/5, was daar groot moeilikheid. Jimmy Neesham (97*) en Colin de Grandhomme (63) het vir 132 lopies om die sesde paaltjie vasgebyt om die Kiwi’s by 237/6 te kry.

Hierna het Haris Sohail (68) en Babar Azam (101*, 128 b; 11x4) se vennootskap van 126 om die vierde paaltjie die knoop vir Pakistan (241/4) deurgehak. – Sportredaksie