242. Dit is die teiken wat Engeland moet jaag as hy sy eerste Wêreldbeker wil wen.

Nieu-Seeland het die loot in Sondag se eindstryd op Lord’s gewen en besluit om eerste te kolf op ’n groenerige blad en onder donker, swaar wolke.

Só het Nieu-Seeland by sy telling van 241/8 uitgekom:

29/1 ná 6.2 boulbeurte:

Die stophorlosie tel af: 4, 3, 2... Dan, net betyds, wys Martin Guptill die T-teken met sy kolf en handskoen. Lord’s hou asem op. Die Nieu-Seelandse aanvangskolwer verwys die beslissing nadat hy sopas been voor paaltjie uitgegee is.

Die kykweer verskyn op die grootskerm. Dit is die tweede verwysing van die wedstryd, want Chris Woakes het vroeër, in die derde boulbeurt, vir Henry Nicholls ook op die beenskut getref. Toe was dit ook die Sri Lankaanse skeidsregter Kumar Dharmasena wat sy vinger gelig het.

Maar anders as met Nicholls se verwysing, is dié een nie suksesvol nie.

Nieu-Seeland verloor vir Guptill (19, 18 b; 2x4, 1x6). En sy enigste verwysing.

Lord’s brul. Maar die Engelse ondersteuners weet ook hoe goed die man is wat volgende instap...

Kane Williamson bevind homself, soos in nege van Nieu-Seeland se vorige tien WB-wedstryde, voor die penne voordat sy span meer as 35 lopies op die telbord het.

Hy wil slag neem, maar iets pla vir Williamson. Hy voel nie heeltemal gemaklik nie. Hy neem dus sy tyd. Stap tot by die regby-skeidsregter. Lord’s raak ongeduldig, oe’s en ah’s weergalm deur die geskiedkundige paviljoene.

Eindelik is hy gereed. Hy verdedig ’n bal en lyk kalm en gefokus. Williamson is gereed om sy span vir die soveelste keer van totale ineensinking te probeer red.

100/1 ná 21.2:

’n Kaalnaeler word in sy spore gestuit net soos hy probeer om oor die advertensieborde te klim wat die paviljoen van die veld skei. Drie polisiebeamptes, wat nie vandag lus het vir nonsens vat nie, pluk die moeilikheidmaker van sy voete af en sleep hom weg.

Die kaalnaeler se middag by die krieket is verby. Dit is minstens 300 pond (bykans R5 300) in die water. Maar hy loop ook die kans mis om ’n skitterende kolfpoging te aanskou.

Nicholls kom tot sy reg ná sy vroeëre bvp-skrik. Hy en die briljante Williamson melk die aflosboulers, Liam Plunkett en Mark Wood. Ná drie boulbeurte, is Plunkett se syfers 0/19. Wood staan ná drie boulbeurte op 0/16 en die draaier Adil Rashid ná drie beurte op 0/18.

Nicholls en Williamson voer hul span verby 100 met ’n vennootskap van 74, wat goud werd is in hierdie kolftoestande.

103/2 ná 22.4:

“Barmy Army, Barmy Army, Barmy Army!” dreunsing ’n groep Engelse in die oostelike paviljoen. Hul span het nie die laaste halfuur se spel oorheers nie. Die “Barmy Army” wil Engeland ’n ekstra hupstoot gee.

Liam Plunkett vier ’n paaltjie. Foto: Getty Images

Die Kiwi-kaptein, Williamson, proe skielik met sy kolf na ’n Plunkett-aflewering wat aan sy wegkant geplant is en net ’n bietjie na buite beweeg. Die Engelse vier uitbundig fees, maar die skeidsregter, weer Dharamsena, staan roerloos. Ditto Williamson.

Eoin Morgan verwys. Die skare hou asem op... en dan bars pandemonium los wanneer die kykweer wys Williamson het wel ’n fyn randjie bygekry.

Die Kiwi-kaptein stap terug vir 30 (53 b). Die Engelse spelers spring op mekaar, Jason Roy druk Plunkett uitbundig vas. Dít was die paaltjie waarna hulle op soek was. Die jubelende Barmy Army weet dit ook.

118/3 ná 26.5:

Plunkett (34) het vroeër in die toernooi gesê hy wil ’n wedstryd “vervelig in die middelbeurte” maak. Bedoelende hy wil die lopiekrane toedraai.

Vandag verveel hy niemand nie. Hy is besig om in sy span se redder te ontaard nadat hy vroeër gesukkel het. Net nadat Nicholls (55, 77 b) sy vyftigtal bereik, speel hy na ’n Plunkett-aflewering wat net genoeg swaai om sy binnerand te tref en terug op sy paaltjies te spat.

Plunkett se laaste drie boulbeurte het twee paaltjies opgelewer en slegs sewe lopies gekos.

Onder die Kiwi-toeskouers is daar ’n man wat ’n plakkaat opgehou het toe Nicholls sy 50-tal bereik: “Die Kiwi’s is hier om geskiedenis te maak.” Daardie hoop wankel. Grotendeels aan die hand van Plunkett.

141/4 ná 33.1:

Die skeidsregter Marais Erasmus, die enigste Suid-Afrikaner met ’n rol in die eindstryd, lig sy vinger. Die Engelse juig – Ross Taylor (15, 31 b) moet terugstap nadat Wood hom been voor paaltjie betrap het.

Die kykweer wys Erasmus het ’n fout gemaak. Die bal sou bo-oor die bypen skiet, maar Nieu-Seeland het nie meer ’n verwysing in die spaarbank nadat Guptill dit opgebruik het nie.

Hoe duur sal daardie oordeelsfout die Swartpette te staan kom?

181/5 ná 41:

Lord’s is nie ’n veld waarop spanne enorme tellings aanteken nie. As Nieu-Seeland so 70, 80 lopies in die laaste nege beurte kry, is hy vierkant in die wedstryd.

Maar Plunkett (3/42 in tien boulbeurte) het ’n twee beurte terug van die gevaarlike Jimmy Neesham (19, 25 b) ontslae geraak.

Tom Latham staan tans op 24 van 31 balle. Colin de Grandhomme op 5 van 5. Sal hulle die vrymoedigheid hê om te waag, of sal die feit dat die kolwers in die kleedkamer min raak, hulle noop om konserwatief te speel?

Plunkett het die wedstryd op sy kop gekeer met sy vaardige, akkurate boulwerk. Hy word welverdiend toegejuig soos hy terugstap om op diepskerpby veldwerk te doen.

241/8 in 50:

Tom Latham (47, 55 b) en Woakes (3/37 in nege bbe.) was die uitblinkers in die doodsnikbeurte.

Woakes het die Kiwi’s met twee paaltjies help beperk, maar Latham se beurt het hulle ’n geringe buitekans gegee.

Engeland is steeds in ’n gunstige posisie. Maar die wedstryd is nog nie verby nie.

Die Swartpette is gewis die buiteperd, maar hulle weet hoe om klein tellings te verdedig. Sal hulle dit vandag kan doen?