Die Proteas was die land ’n skittervertoning soos Vrydag s’n teen Sri Lanka in Chester-le-Street verskuldig, sê die veelsydige speler Andile Phehlukwayo.

Suid-Afrika het sy tweede laaste Wêreldbeker-wedstryd oortuigend met nege paaltjies gewen. Die sege verander nie die feit dat die Proteas nie vir die halfeindronde kan kwalifiseer nie, maar volgens Phehlukwayo voel hulle wel dit is ’n klein beloning vir hul harde werk agter die skerms.

“Ons het dit nodig gehad ná ’n paar treurige vertonings,” sê Phehlukwayo.

“Ons was dit aan die land verskuldig. Ons was dit aan onsself verskuldig.

“In die kleedkamer het ons gesê drie ouens moet na vore tree en dít het gebeur.”

Faf du Plessis (96*) en Hashim Amla (80*) het met die kolf uitgeblink met ’n vennootskap van 175*, terwyl Dwaine Pretorius met die bal geskitter het.

Phehlukwayo sê dit is teleurstellend dat so ’n oorheersende vertoning kom wanneer dit nie meer regtig saak maak nie.

“Iets wat nie ideaal vir ons was nie, is dat ons nie die hoeveelheid lopies aangeteken wat ons wou nie en spanne ook nie beperk het soos wat ons wou nie. Daar is lesse uit te leer,” sê hy.

“Daar was egter nooit ’n tekort aan ywer nie. ’n Vertoning soos die een teen Sri Lanka was dus belangrik, dit het my hart bly gemaak.

“Dit is teleurstellend dat ons dit nou doen en nie toe dit saakgemaak het nie. Daar is belangrike dele van wedstryde wat ons nie kon oorheers nie en die gevolg was dat ons die heeltyd op die agtervoet was in die ander wedstryde.”

Phehlukwayo se mede-veelsydige speler, Pretorius, is as die Speler van die Wedstryd aangewys vir sy boulontleding van 3/25 in tien beurte. Dit was die mees ekonomiese boulontleding tot dusver in die Wêreldbeker-toernooi.

“Ek is baie bly vir Dwaine, dit is ongelooflik om te sien. Hy doen baie harde werk in die nette, soms moet ons selfs vir hom wag, want hy slaan die meeste balle.

“Ons druk mekaar baie hard en dit is skitterend dat hy die wêreld vandag gewys het wat hy kan doen.”

Pretorius het Lungi Ngidi in die elftal vervang vir die wedstryd teen Sri Lanka. Ngidi sukkel tans met sy fiksheid, maar Phehlukwayo glo hy sal gou terug op sy beste wees.

“Ek dink Lungi was net baie ongelukkig met tye. Iemand soos Pat Cummins (Aussie-snelbouler) het ook baie beserings opgedoen toe hy jonk was, voordat hy sy spits bereik het.

“Hy was ook ongelukkig en nou wys hy die talent en vaardighede wat hy het. Lungi was ook ongelukkig. Hy werk daaraan.

“Dalk groei hy nog fisies, wie weet? Hy probeer sterker word, geestelik en fisiek. Ek glo hy sal weer heeltemal regkom.”

Met Ngidi uit die boulaanval, is daar wel ’n nuwe dinamika, bieg Phehlukwayo. Dan is Kagiso Rabada en Chris Morris die enigste uit-en-uit snelboulers, terwyl Phehlukwayo en Pretorius liewer naatboulers is.

“Dit verander wel nie die wyse waarop ek boul nie. Op ’n blad wat iets vir die boulers bied, is dit belangrik om iemand soos Dwaine te hê, want hy boul baie akkuraat – lyn en lengte – en hy het baie vaardighede.

“Hy lees die spel ook goed, so as hy die lopietempo moet beperk, is dit iets wat hy sal doen. As hy moet aanval, sal hy dit ook doen. Hy is ’n skitterende speler en hy wys dit nou.”