Die Protea-klas van 2019 speel nou om hul Wêreldbeker-nalatenskap so ietwat meer aansien te gee.

Hulle is dit nou ook aan hulself verskuldig om ’n goeie eindpoging in te sit in die laaste twee wedstryde teen Sri Lanka en Australië, sê die hulpafrigter Malibongwe Maketa.

“Vir ons eie onthalwe, moet ons nou goeie krieket speel,” het Maketa Woensdag in Durham gesê, waar die span Vrydag teen Sri Lanka speel.

“Ons het oor die laaste twee jaar baie hard gewerk om hierheen te kom en die toernooi te wen. Dít gaan nie gebeur nie, maar ons kan nie dat twee weke se werk swak op ons reflekteer nie.

“Ons speel vir miljoene mense in Suid-Afrika, maar ons moet vir onsself ook goed speel. Ons moet ’n sterk eindpoging insit.”

Hy sê dit is moeilik om presies te sê wat tot dusver verkeerd geloop het.

“Noudat ons terugkyk, wens ons wel ons boulers kon fiks bly. Ek weet dit klink soos ’n verskoning, maar dit was taai met sommige van die beserings.”

Dale Steyn kon weens ’n skouerbesering nie in een van die wedstryde speel nie. Lungi Ngidi het ook met sy fiksheid gesukkel en drie wedstryde misgeloop nadat hy ’n dyspier teen Bangladesj beseer het.

Anrich Nortjé, wat die plaasvervanger-snelbouler sou wees, het sy duim net voor die toernooi gebreek.

“Ons kan ook na ons kolwers kyk en sê ons het nie genoeg lopies aangeteken nie. Ons het nie gereeld 300 of meer lopies gekry nie.

“Ons kolwers het almal aan die gang gekom, ons het vennootskappe van 50 aangeteken, maar nie daarop voorgebou nie.”

Die Proteas kon net een keer, in die nederlaag teen Bangladesj, meer as 300 lopies aanteken. Geen kolwer kon verby 68 lopies vorder nie. Nou wil die Proteas wys hulle is beter as wat dié statistieke wys.

“Ons wil graag sterk klaarmaak. Ons verteenwoordig steeds ons land en daar is ’n paar spelers wat ná die toernooi uittree, so ons is dit aan hulle en onsself verskuldig om goed te eindig.

“Nog twee seges sal beter lyk as net een oorwinning uit nege wedstryde. Dit sal ons nalatenskap van die Wêreldbeker-toernooi beter daaruit laat sien.”

Sri Lanka is ’n span teen wie die Proteas baie selfvertroue het. Suid-Afrika het die eilandspan net voor die WB-toernooi met 5-0 in ’n reeks in Suid-Afrika geklop.

Verlede jaar het die Proteas hul eendagreeks in Sri Lanka met 3-2 gewen.

Die Sri Lankane het wel nog iets om voor te speel, aangesien hul halfeind-hoop nog nie verydel is soos die Proteas s’n nie.

Tog glo Maketa die spanne is “geestelik op ’n soortgelyke plek”.

“Die voordeel wat ons het van die vorige reeksseges kan ’n invloed hê, maar ons dink nie daaraan nie.

“Ons is desperaat op soek na ’n oorwinning.”