Dit is nie die einde van die wêreld as Suid-Afrika die openingswedstryd van die Wêreldbeker-kriekettoernooi Donderdag teen Engeland op die Oval verloor nie.

“Ja, natuurlik wil jy goed vaar en goed begin. Maar wat ook al gebeur, dit is slegs die eerste wedstryd in ’n toernooi wat 11 wedstryde lank is as jy tot die eindstryd vorder, so ons lees nie te veel in die wedstryd nie,” het Ottis Gibson, die Proteas se afrigter, Dinsdag gesê.

Engeland is die oorweldigende gunsteling om nie net dié wedstryd nie, maar die hele toernooi te wen. Met reg ook – hulle is die voorste span op die eendag-wêreldranglys en boonop die gasheerland.

Gibson sê dit is goed vir Suid-Afrika om die Engelse in die eerste wedstryd reeds aan te durf.

“Dit gee vir jou ’n idee van waar jy jouself bevind en wat jy vorentoe moet doen. Ongeag wat in die wedstryd gebeur – die uitslag maak nie saak nie – maar dit gee vir ons ’n goeie idee van hoe ons die res van die toernooi moet benader.”

Al die druk is boonop op Engeland.

“Ek het iewers gehoor twee van my baie goeie vriende, Stuart Broad en Jimmy Anderson(die Engelse toetsboulers), sê Engeland moet regtig swak speel om nie die Wêreldbeker te wen nie,” sê Gibson, wat voorheen Engeland se boulafrigter was.

"Ongeag wat in die wedstryd gebeur – die uitslag maak nie saak nie..."

“Volgens hulle het Engeland alreeds gewen.”

Gibson het egter vertroue in sy planne en “as ons beste Donderdag nie goed genoeg is nie, dan het ons Sondag (teen Bangladesj) nóg ’n wedstryd en dan Woensdag nog een (teen Indië)”.

“Ons wil net aan die einde steeds deel van die toernooi wees. Dit is ’n groot wedstryd teen Engeland, maar om die eerste wedstryd teen hulle te speel, is nie noodwendig ’n slegte ding nie.”

Volgens hom het Suid-Afrika oor die laaste jaar bewys hy kan ook aanvallende krieket speel, “meer aanvallend as vorige Suid-Afrikaanse spanne”.

“Dalk nie so aanvallend soos Engeland nie, maar ons probeer om meer positief en aggressief te wees.

“Ons voel ons is gereed vir die volgende ses weke. Dit gaan vrek baie pret wees, dit is vir seker.

“As ons dít doen waaroor ons in die kleedkamer praat en getrou aan onsself bly en in onsself glo, voel ek ons sal ná vyf weke deel van die gesprek wees.

“Ons hoef nie nou deel van die gesprek te wees nie, maar ons wil aan die einde deel van die gesprek wees.”