Die naweek se internasionale krieket-aksie in Brittanje sal die Proteas noop om drie notas in hul beplanningsboeke te maak: Engeland is ’n kolfboelie; Southampton is ’n lopieparadys; en die Wes-Indiese Eilande is nie jou speelmaatjie nie.

Jos Buttler vier sy honderdtal teen Pakistan Saterdag in Southampton. Foto: Reuters

Die Engelse het Saterdag ’n mammoet van ’n telling (373/3) aangeteken in hul tweede eendagwedstryd teen Pakistan in Southampton.

Die Pakistani’s het self teruggekap met ’n stewig totaal, maar hul telling van 361/7 was net-net nie genoeg nie en die Engelse het met 12 lopies gewen.

Suid-Afrika speel oor net meer as twee weke in die openingswedstryd van die Wêreldbeker-kriekettoernooi teen Engeland op die Oval in Londen.

Die Protea-boulers sal verskeie Pommie-kolwers in toom moet hou, maar veral Jos Buttler het Saterdag gewys hoe gevaarlik hy kan wees.

Buttler het ’n blitsige en verwoestende beurt van 110* van slegs 55 aflewerings aangeteken. Sy beurt het ses viere en ’n allemintige nege sesse ingesluit.

Hy en die kaptein, Eoin Morgan (71*, 48 b; 6x4, 1x6), het ’n monster van ’n vennootskap (162* van 89 balle) opgestapel nadat hulle in die 36ste boulbeurt in die middel byeengekom het.

Morgan het ná die wedstryd gesê Buttler, wie se honderdtal 50 balle in beslag geneem het, is ’n frats. Sy honderdtal was die tweede vinnigste een nóg deur ’n Engelsman. Die vinnigste een, wat 46 balle geneem het, staan ook agter Buttler se naam.

“Hy is regtig goed. Hierdie ongelooflike, frats-beurte van hom word al hoe nader aan mekaar gespeel, wat ’n goeie ding vir ons is,” het Morgan volgens BBC Sport gesê.

’n Goeie ding vir Engeland, nie so goed vir die Proteas nie.

Suid-Afrika sal ook ’n ogie moet hou op onder andere Jason Roy, Jonny Bairstow en Joe Root.

Hulle het almal ook Saterdag uitgeblink. Roy het 87 aangeteken, Bairstow 51 en Root 40.

Pakistan, teen wie die Proteas op 23 Junie op Lord’s in Londen speel, het ook gevaarlik gelyk met die kolf.

Die aanvangskolwer Fakhar Zaman was uitstekend en sy beurt van 138 (106 balle; 12x4, 4x6) het sy span ’n goeie kans gegee om ’n onwaarskynlike sege in die Rose Bowl in Southampton te behaal.

Dié veld is duidelik vrugbaar vir enorme tellings. Die Proteas speel twee wedstryde daar – op 5 Junie teen Indië en op 10 Junie teen die Wes-Indiese Eilande.

Indië het ’n kolflys wat groot tellings kan aanteken. Ditto die Windies. Die Karibiese span het dit Saterdag opnuut bewys.

In hul eendagwedstryd teen Ierland in Dublin het die Windies ’n skitterende jaagtog van stapel gestuur en ’n teiken van 327/5 suksesvol bereik.

Die aanvangskolwer Sunil Ambris het met 148 (126 balle; 19x2, 1x6) geskitter in ’n span gestroop van sterre soos Chris Gayle en Andre Russell.

Die besoekers het op 331/5 geëindig vir ’n sege met vyf paaltjies. Vir Ierland het Andy Balbirnie geskitter met ’n honderdtal (135, 124 b; 11x4, 4x6).

Die Windies sal die WB nie as een van die gunstelinge binnegaan nie, maar dié onvoorspelbare span is tot enigiets in staat.

Telkaart van Engeland se wedstryd.

Telkaart van die Windies se wedstryd.