Om die gewraakte “c-woord” soos die pes te vermy, kan presies die teenoorgestelde uitwerking op die Proteas hê as wat hulle dink.

Die Wêreldbeker-toernooi in Engeland en Wallis begin op 30 Mei en Suid-Afrika kan homself staal om gereeld die woord “chokers” te hoor – ’n etiket wat die span toegedien is vanweë die indruk dat hy in groot oomblikke onder druk vou.

Die sportsielkundige Pieter Kruger het die Springbok-rugbyspan al verskeie kere bygestaan. Foto: Gallo Images

Ottis Gibson, die Proteas se breier, benader die “chokers”-etiket so ietwat anders as sy voorgangers. By die WB-toernooi in 2015, onder die afrigting van Russell Domingo, en in 2011, toe Gary Kirsten die span afgerig het, het die Proteas nie weggeskram van dié woord nie.

Maar Gibson het ’n ander filosofie.

“Ons het dit bespreek en besluit ons gaan dit nie ophaal nie,” het Gibson Dinsdag aan joernaliste in Kaapstad gesê.

“Ons het nie daaroor gepraat totdat jy dit opgehaal het nie,” het hy beskuldigend vir ’n joernalis gesê.

“Ons wil nie regtig hê daar moet vrae daaroor gevra word nie.”

Pieter Kruger, ’n sportsielkundige wat die Springbokke by die WB-toernooi in 2015 bygestaan het, sê die Proteas moet verwag dat dié term rondgeslinger gaan word.

“Hulle moet die proses intern hanteer. Die interne kommunikasie is bitter belangrik,” sê Kruger.

Hulle moet die woord aanvaar, maar besluit dit is irrelevant vir hulle, dit moet hulle nie beïnvloed nie.
Pieter Kruger

“Om ’n bewustelike poging aan te wend om die woord nié te gebruik nie, kan maak dat jy juis daaraan dink. Hulle moet die woord aanvaar, maar besluit dit is irrelevant vir hulle, dit moet hulle nie beïnvloed nie.

“Daar is baie lede van daardie span wat nog nooit by die Wêreldbeker was nie. Hulle ly aan wat ons noem ’n ‘sosiale oorerflike’ kwaal – al wat eenders van dié Protea-span en die een van 1999 is, is die kleure wat hulle dra,” sê Kruger.

Volgens hom is dit bitter belangrik dat die span praat oor wat hulle wil hê en nie wat hulle kan verloor nie.

Die invloed van die kaptein, Faf du Plessis, sal ook bitter belangrik wees.

“Spanne waar die kaptein ’n persepsie van beheer skep, al is hy of sy span nie noodwendig in beheer nie, vaar altyd goed.

Pieter Kruger, 'n sportsielkundige, het die Bokke by die Wêreldbeker-toernooi in 2015 bygestaan. Foto: Verskaf

“Dit is belangrik dat die kaptein en senior spelers, jou Dale Steyns en Hashim Amla’s, positief bly en energiek is.”

Kruger sê om te “choke” is ’n fisiologiese proses.

“Dit gebeur slegs in wedstryde waarin jy die kans staan om iets te verloor, nie in die groepfase waar daar ’n tweede kans is as jy nie wen nie.

“Dan is daar ’n biologiese proses waarin die brein ’n boodskap kry van ‘ons gaan dit dalk nie maak nie’.

“ ’n Hormoon wat stres veroorsaak, word vrygestel en dié hormoon beïnvloed ’n mens se motoriese stelsel, so jy beweeg stadiger.”

Om te “choke” beïnvloed dus letterlik ’n atleet se vermoë om goed te vertoon onder druk.

Kruger sê die feit dat die Proteas nie vanjaar weer soos in die verlede as die gunsteling beskou word nie, is ’n reuse-voordeel.

“Dadelik is daar nie die druk van verwagtinge nie. ’n Buiteperd het niks om te verloor nie, maar bitter baie om te wen.

“Die taal wat die span met mekaar praat en die energie wat hulle as ’n eenheid by mekaar kry, is deurslaggewend. Dit is ook belangrik om te sorg jy bly in die oomblik en dink nie te ver vooruit nie.”

Kruger was ook voorheen by die Blitsbokke en Haaie betrokke. Hy is tans aan die Ierse klubspan Munster verbonde.