Hoog op Faf du Plessis se wenslysie vir Woensdag se Wêreldbeker-kragmeting tussen die Proteas en Nieu-Seeland op Edgbaston, sal ’n stewige aanvangsvennootskap tussen Quinton de Kock en Hashim Amla wees.

Die Protea-kaptein sal weet toporde-lopies was tot dusver die towerwoord in vanjaar se WB-toernooi in Engeland. As Suid-Afrika hul treurige vertoningslys teen die Kiwi’s op die grootste verhoog handomkeer wil verander en terselfdertyd hul hoop lewend hou om vanjaar se halfeindronde te haal, is dít ononderhandelbaar.

De Kock het Dinsdag gesê hy en Amla is vol vertroue dat hulle die span kan help om goed weg te spring.

“Ons vennootskap het nie veel verander nie, om eerlik te wees,” sê De Kock.

“Uiteraard het ons aan die begin van die jaar nie veel kans gekry om saam te kolf nie, so ons het ons verhouding vir ’n rukkie verbreek,” skerts die paaltjiewagter.

Dit is goed om weer saam met hom te kolf. Ons maak baie op mekaar staat. Ons vul mekaar goed aan.
Quinton de Kock

“Dit is goed om weer saam met hom te kolf. Ons maak baie op mekaar staat. Ons vul mekaar goed aan.”

In 91 van sy 111 eendagwedstryde vir Suid-Afrika, het De Kock die kolfbeurt saam met Amla begin. In 11 van dié beurte het hulle ’n vennootskap van meer as 100 lopies om die eerste paaltjie gedeel.

In vanjaar se toernooi was daar nog net een wedstryd waarin ’n topdrie-kolwer van die wenspan nie ’n vyftigtal aangeteken het nie. Dít was in die einste Nieu-Seeland se sege oor Bangladesj.

Kane Williamson, die nr. 3-kolwer, het wel 40 lopies geslaan. Ross Taylor, wat op nr. 4 ingestap het, het ’n beurt van 82 gespeel.

Suid-Afrika se aanvangspaar van Quinton de Kock en Hashim Amla hou straks die sleutel tot sukses in die Proteas se kragmeting met Nieu-Seeland Woensdag op Edgbaston. Foto: Getty Images

De Kock en Amla het Saterdag in Cardiff ’n vennootskap van 104 lopies gedeel. Hulle sal daarop moet voortbou, want “dit is ’n kwarteindstryd vir ons”.

Hulle weet boonop hoe ’n goeie teenstander die Swartpette is.

“Ons weet Nieu-Seeland is ’n groot span by WB-toernooie. Dit is altyd asof hulle na vore tree op dié verhoog.

“Ons moet geestelik taai wees. Ons was ’n goeie eendagspan die laaste paar jaar, so ons hoef nie veel te verander aan hoe ons speel nie. Dit is ’n sielkundige spel as dit by ’n WB-toernooi kom.”

De Kock was in 2015 deel van die WB-groep en sê hy het lesse uit daardie veldtog geleer.

“Ek is steeds jonk, maar toe was ek nog ’n baba. Ek het te veel druk op myself geplaas, want ek wou bitter graag goed vaar.

“Nou is ek geestelik vry van daardie druk. Ek probeer net om my krieket soveel as moontlik te geniet.”

Nou is ek geestelik vry van daardie druk. Ek probeer net om my krieket soveel as moontlik te geniet.
Quinton de Kock

Hy het ook nie enige letsels van die nederlaag wat die Kiwi’s die Proteas in die halfeindstryd van 2015 se toernooi toegedien het nie.

“Dit is ’n skoon lei.”

Slegs vyf spelers wat in daardie halfeindstryd gespeel het, behoort Woensdag op Edgbaston te speel. Hulle is De Kock, Amla, Du Plessis, David Miller en Imran Tahir.

Die res van die span het nie enige Kiwi-letsels nie. Hulle sal ’n paar snye van hul eie wil toedien.

Moontlike elftal:
Quinton de Kock, Hashim Amla, Aiden Markram, Faf du Plessis, Rassie van der Dussen, David Miller, Andile Phehlukwayo, Chris Morris, Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Imran Tahir.