Die mantel van belangrikste kolwer in die Protea-span hang stewig om sy skouers, maar Quinton de Kock wil geen superheld wees nie. Hy kan ook nie ’n AB de Villiers wees nie.

“Almal wil natuurlik soos AB wees,” sê De Kock.

“Maar ongelukkig is daar net een ou soos hy by die Wêreldbekertoernooi en hy speel vir Engeland.”

De Kock het geen name genoem nie, maar hy praat van die Engelse paaltjiewagter Jos Buttler. Die gevaarlike Buttler het egter nie veel van ’n sê gehad in Donderdag se openingswedstryd wat Engeland met 104 lopies op die Oval gewen het nie.

De Kock het wel. Sy beurt van 68 het opnuut onderstreep hoe belangrik hy vir Suid-Afrika is.

As Buttler die nuwe De Villiers van wêreldkrieket is, is De Kock beslis die nuwe AB in die Protea-kolflys. Die een kolwer wat elke span wil uitkry.

Ons het nie superhelde in die span nodig nie, ons het net ouens nodig wat hul taak verrig. – QUINTON DE KOCK

“Ek voel op die oomblik so, maar ek geniet dit om te weet ek is daardie ou wie se paaltjie spanne hoog op prys stel,” sê De Kock.

“Dit gee vir my meer verantwoordelikheid. Ek kom wel nie hierheen om ’n superheld te wees nie.

“Ons het nie superhelde in die span nodig nie, ons het net ouens nodig wat hul taak verrig,” sê hy.

De Kock het die Engelse boulers Donderdag gefrustreer totdat hy sy paaltjie weggesmyt het. Hy het ’n swak aflewering op sy beenskutte van Liam Plunkett in Joe Root se keelgat op die skerpbygrens afgeslaan en hy moes terug kleedkamer toe stap met die Proteas se wenkanse op sy rug. Met hom terug op die paviljoen was daar nie juis ’n kans dat Suid-Afrika die teiken van 312 sou bereik nie.

“Ek is gefrustreerd met die wyse waarop ek uitgegaan het,” erken hy.

“Ek het gevoel ek kolf goed en toe verloor ek my paaltjie op die verkeerde tyd. As ek nog 10, 15 beurte gekolf het, sou ons in ’n sterk posisie gewees het.”

LONDON, ENGLAND - MAY 30: Quinton De Kock of South
Quinton de Kock. Foto: Getty Images

Die 26-jarige De Kock is ’n baie instinktiewe kolwer. Dit het hom gehelp om in 107 eendagwedstryde reeds 14 honderdtalle en 22 vyftigtalle op te stapel. Sy 4 670 loopbaanlopies het boonop teen ’n uitsonderlike gemiddeld van 45.78 en treftempo van 95.75 gekom.

Maar sy instinktiewe benadering tot kolfwerk is ook soms sy ondergang.

“Vanjaar het ek ’n paar keer my paaltjie op so ’n wyse verloor. In my kop weet ek wat ek wil doen, maar dan kom daar ’n aflewering . . . en amper van nêrens af nie speel ek sulke houe. Dit is seker maar reflekse.

“Ek moet daaruit leer en ek werk daaraan. Gelukkig het ons nog ’n paar wedstryde hier oor wat ek vir die span kan probeer wen.”

Volgens hom is Suid-Afrika ook nie platgeslaan oor die nederlaag nie.

“Engeland is die toernooi-gunsteling en hulle het nie weggehardloop met ons nie. Dit is nie die einde van die wêreld nie. Dit was net die eerste wedstryd.”

Die Proteas sal Sondag teen Bangladesj, ook op die Oval, probeer om op die wenpad te kom. Dié kragmeting begin om 11:30 en word regstreeks op SS2 uitgesaai.