Rassie van der Dussen dink dit sou ’n gevaarlike presedent skep as AB de Villiers toegelaat sou word om ’n terugkeer tot internasionale krieket te maak om die Proteas by die Wêreldbeker-toernooi te verteenwoordig.

Van der Dussen, die kolwer wat ná De Villiers se skokuittrede verlede jaar in Mei sy plek in die middelorde ingeneem het, het Donderdag in die Proteas se spanhotel in ’n reënerige Cardiff eerlik gepraat oor die De Villiers-kwessie.

Dit het verlede week aan die lig gekom dat De Villiers minder as 24 uur voor die aankondiging van die WB-groep afsonderlike oproepe na Faf du Plessis, Protea-kaptein, en Ottis Gibson, SA breier, gemaak het. In dié oproepe het hy glo die water getoets oor die moontlikheid dat hy kan saamgaan na Engeland.

AB de Villiers

“Ek was nie verras om te hoor dat AB ’n terugkeer wou maak op die wêreld se grootste verhoog nie,” sê Van der Dussen (30).

“Dit is iets wat al die grootste sportmanne gemeen het – hulle wil op die grootste verhoog goeie vertonings insit, wanneer die druk op sy ergste is.”

Van der Dussen sou waarskynlik in die slag gebly het, indien De Villiers wel by die groep ingesluit is. Dít nadat hy sy kans met albei hande aangegryp het sedert hy sy internasionale eendagbuiging in Januarie gemaak het. Die Lions-kolwer sê dit het egter nie ’n invloed op hom nie.

“Moet ek AB vervang? Nee, ek voel nie so nie. Kan ek beurte speel wat wedstryde vir my land wen? Ja, ek voel ek kan. Is dit wat hy gedoen het? Ja, dit is.

“Dit het nie so ’n groot invloed op my gehad soos wat mense graag sou wou dink nie.

“Ek dink wel dit sou beslis ’n gevaarlike presedent geskep het. Ek is dalk nie die beste ou om te vra nie, want dit sou ’n direkte invloed op my hê as hy nie uitgetree het nie.

“Maar jy kan nie die aand voor die spanaankondiging, van ’n span wat nou al ’n jaar lank werk aan iets, kom en sê jy wil ’n terugkeer maak nie.”

Jy kan nie die aand voor die spanaankondiging, van ’n span wat nou al ’n jaar lank werk aan iets, kom en sê jy wil ’n terugkeer maak nie.
Rassie van der Dussen

Van der Dussen het ’n tydjie geneem om sy antwoorde te oordink voordat hy vrae oor De Villiers beantwoord het. Hy wou ook nie ’n oordeel op sy besluit vel nie.

“Ek sê nie hy was reg of verkeerd nie, maar dit sou ’n moeilike presedent stel. Ek sê nie noodwendig dit is ’n verkeerde presedent nie, want hy is steeds AB, hy is steeds een van die beste spelers in die wêreld,” sê Van der Dussen.

Ottis Gibson, die Protea-afrigter. Foto: Gallo Images

“Ek dink net dit is nie op die beste moontlike manier hanteer van sy kant af nie. Soos ek dit verstaan, het Ottis (Gibson, afrigter) en Faf (du Plessis, kaptein) aangebied om sy werklading te bestuur, want hulle wou hê hy moet in die Wêreldbeker-toernooi speel.

“Hy het nee gesê. Hy was tevrede om uit te tree en dit is regverdig. Faf het dit aanvaar, Ottis het dit aanvaar en hulle het daarby gestaan.”

* Van der Dussen en sy spanmaats kom Saterdag in Cardiff in hul volgende WB-wedstryd teen Afganistan te staan.