As jy vir Rassie van der Dussen ’n jaar gelede gevra het of hy ’n kans het om die Proteas by vanjaar se Wêreldbeker-toernooi te verteenwoordig, sou hy waarskynlik gelag het. Toe het hy nog nie eers sy nasionale buiging gemaak het.

Nou word dié 30-jarige Lions-kolwer deur die Protea-kaptein, Faf du Plessis, as ’n leier-kandidaat vir die volgende Wêreldbeker-siklus voorgehou.

Van der Dussen was die Proteas se beste kolwer met ’n onoorwonne beurt van 67 lopies in hul nederlaag met vier paaltjies teen Nieu-Seeland Woensdag in Birmingham. Trouens, hy is hul beste kolwer tot dusver in die hele toernooi.

“Rassie het gewys hy is die ware Jakob. Ek dink hy het leierskap-potensiaal, hy tree as ’n sterk karakter vir ons na vore in die toernooi,” het Du Plessis ná die nederlaag gesê.

Nadat hy sy buiging in Januarie teen Pakistan gemaak het, het Van der Dussen reeds ses vyftigtalle in 15 wedstryde vir die Proteas aangeteken. Hy sê hy vaar goed omdat hy sy spel uitstekend leer ken het in die leerskool van plaaslike krieket, waarin hy sy vaardighede ’n dekade lank geslyp het.

“Wanneer jy op dié vlak kom, ken jy al jou spel. Ek is bly dat ek tot dusver goed kon speel en dat dit goed uitwerk vir my,” sê Van der Dussen. Hy sê hy sien homself as ’n leier in die kolflys.

Hy is beslis van plan om in nóg ’n WB te speel, as hy sy goeie spelpeil kan volhou.

“Ek kan nou begin dink aan die moontlikheid om in die volgende WB-toernooi te speel. As jy my verlede jaar hierdie tyd gevra het of ek in dié toernooi sou speel, sou ek sê die kans was bitter skraal.

"Rassie het gewys hy is die ware Jakob." - Faf du Plessis

“Faf is amper 35, ek is nou 30. Hopelik kan ek oor vier jaar steeds in ’n goeie fisieke toestand wees en steeds goed speel.”

Oor Woensdag se wedstryd is die span teleurgesteld, sê Van der Dussen. “Want dit is taai wanneer jy goed speel en verloor.”

“Geskiedkundig is 250, 260 ’n goeie telling op dié blad. Ons het 241 aangeteken, maar die blad was vir twee weke lank bedek, so dit was nie maklik om lopies aan te teken nie en ons het geweet ons het ’n goeie telling.”

Hy sê hoewel die geluksgodin die Proteas nie strykdeur goedgesind was nie – soos toe Kane Williamson buiterand bygekry het by ’n Imran Tahir-aflewering, maar niemand dit gehoor het nie – het nie álles teen hulle gewerk nie.

"Ons sal ons karakter wys." - Rassie van der Dussen

“ ’n Paar dinge het in ons guns uitgewerk, soos Martin Guptill en Ross Taylor se paaltjies.

“Daar was ook ’n paar goed wat teen ons gewerk het – soos die twee kere wat David Miller amper vir Williamson en Colin de Grandhomme uitgevang het, of die verbroude uithardloopkans. Dit was millimeters.

“Ons het geweet hierdie sou ’n moeilike wedstryd wees, maar as ons gewen het, was ons nog vierkant in die gesprek. Dit was so naby.”

Daar is drie wedstryde oor, wat Sondag met ’n stryd teen Pakistan op Lord’s begin. Die Proteas gaan nie met minder intensiteit speel nie, beloof Van der Dussen.

“Elke keer wat jy jou land verteenwoordig, is dit steeds ’n goeie dag, dit is steeds ’n groot voorreg. Dit maak nie saak dat ons uit die toernooi is nie. Dit is steeds ’n wedstryd vir jou land,” sê hy.

“Ons sal ons karakter wys. Die intensiteit sal nie afneem nie. Ons is gereed vir dit.”