Engeland se wispelturige weer het Dinsdag nog ’n wedstryd in die wiele gery by vanjaar se Wêreldbeker-kriekettoernooi.

Die wedstryd tussen Sri Lanka en Bangladesj in Bristol is afgelas sonder dat ’n bal geboul is.

Dis die tweede keer wat dié lot Sri Lanka in vanjaar se toernooi tref. Sy wedstryd teen Pakistan het ook weens reën nie ’n uitslag opgelewer nie.

Die vooruitsig vir die komende paar dae is ook nie goed nie. Swaar reën word vir die hele Brittanje voorspel tot en met die naweek.

Australië en Pakistan is veronderstel om Woensdag kragte te meet in Taunton, maar reën word ook vir die hele dag daar voorspel. – Sportredaksie