Ondanks ’n boete en twee strafpunte, sal Engeland se verwoestende aanvangskolwer Jason Roy Sondag in die Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland op Lord’s speel.

Roy is met 30% van sy wedstrydgeld beboet nadat hy sy misnoeë Donderdag te kenne gegee het toe Kumar Dharmasena, die skeidsregter van Sri Lanka, hom verkeerdelik uitgegee het in die WB-halfeindstryd teen Australië in Birmingham.

Jonny Bairstow (Getty Images)
Jonny Bairstow. Foto: Getty Images

Met sy telling op 85 (van net 65 balle) moes Roy die veld verlaat nadat Dharmasena beslis het hy het randjie bygekry en is agter die penne uitgevang. Roy wou dié beslissing na die TV-skeidsregter laat verwys, maar sy aanvangsmaat, Jonny Bairstow, het die span se enigste verwysing reeds vroeër in die beurt gebruik.

Hy was woedend en het by Marais Erasmus van Suid-Afrika, die ander skeidsregter, gekla. Televisie-kommentators moes kykers vir sy gekruide taal om verskoning vra.

Die twee strafpunte wat hy toegedien is, bring sy strafpunt-totaal op drie te staan. Hy het vroeër in die toernooi ’n strafpunt gekry omdat hy ’n vloekwoord geuiter het nadat hy ’n vangkans teen Pakistan verbrou het.

Drie strafpunte is nie genoeg vir ’n skorsing nie en hy sal die Kiwi’s Sondag in die eindstryd kan pak.

Aaron Finch, die Aussies se kaptein, het ná sy span se nederlaag met agt paaltjies gesê Roy is ’n skitterende speler.

Wanneer hy aan die gang kom, kan hy bitter verwoestend wees en hy doen dit boonop sonder om baie tyd in beslag te neem.
Aaron Finch

“Ek het nou al ’n paar jaar saam met hom by Surrey gespeel. Wanneer hy aan die gang kom, kan hy bitter verwoestend wees en hy doen dit boonop sonder om baie tyd in beslag te neem,” sê Finch.

Die Aussie-aanvangskolwer sê die eerste paar boulbeurte van sy span se kolfbeurt Donderdag, het reeds die uitslag bepaal.

Die Aussies het ná 6.1 boulbeurte op 14/3 gesteier.

Alex Carey (Getty Images)
Alex Carey. Foto: Getty Images

Danksy ’n goeie vennootskap tussen Steve Smith (85) en Alex Carey (46) het hulle 223 bymekaar geskraap, maar met Roy aan die spits het die Engelse dié teiken in 32.1 boulbeurte kafgedraf.

“Ons is heeltemal uitoorlê, dit is so eenvoudig soos dit. Ons is baie teleurgesteld, ons het hierheen gekom om te wen.

“Ek dink ons het enorme vordering getoon in die laaste 12 maande.”

Die Aussies is ’n jaar geruk geruk deur die balpeuteryskandaal in Kaapstad. Daarna kon hulle beswaarlik ’n reeks wen.

“Ek is baie trots op almal vir hoe ver ons gevorder het, maar terselfdertyd het ons hierheen gekom om ’n halfeindstryd te wen, so dit is baie teleurstellend.”

* Erasmus en Dharmasena is intussen ook as die skeidsregters vir Sondag se eindstryd aangewys.

Erasmus word die eerste Suid-Afrikaner wat in 'n eindstryd sal staan. Cyril Mitchley (1996), Rudi Koertzen (2003, 2007) en Erasmus (2015) was wel al as TV-skeidregters in WB-eindstryde betrokke.

Erasmus was in 2015 die televisie-skeidsregter vir die eindstryd.

Rod Tucker van Australië sal die TV-skeidsregter wees en Aleem Dar sal as die vierde skeidsregter diens doen.

Ranjan Madugalle van Sri Lanka is die wedstrydskeidsregter.