Imran Tahir het gehoop die Proteas sal twee draaiers inspan vir hul laaste Wêreldbeker (WB)-wedstryd Saterdag teen Australië op Old Trafford in Manchester.

Maar dit lyk nie of dié strydros se wens vir sy laaste eendagwedstryd in Protea-kleure gaan waar word nie.

“Ons behoort met dieselfde elftal as in die vorige wedstryd te speel,” het Faf du Plessis, Suid-Afrika se kaptein, Vrydag gesê.

Dit beteken dat Dwaine Pretorius weer soos in die wedstryd teen Sri Lanka in Chester-le-Street, in Lungi Ngidi se plek sal speel. Tabraiz Shamsi, die tweede draaier, sal dus sy WB-toernooi afsluit met slegs een wedstryd – die een teen Indië – op sy kerfstok.

Tahir het Donderdag gesê Old Trafford is die veld in Engeland waar die bal die meeste draai.

“Ek dink dit sal die beste kans wees om twee draaiers in te span,” het Tahir gesê.

Voor die toernooi was die verwagting ook dat die wedstryd teen Australië die ideale geleentheid sou wees om Tahir en Shamsi in tandem in te span. Die Aussies beskik boonop nie oor die beste kolwers teen draaiers nie.

Min dinge het egter uitgewerk soos voor die toernooi verwag is.

“Ons het voor die toernooi na die laaste wedstryd gekyk en gedink dit kan ’n moontlike kwarteindstryd wees,” het Du Plessis Vrydag gesê.

“Maar dit is nie nou die geval nie.”

Du Plessis gee die versekering dat die span nie met minder intensiteit gaan opdaag nie.

“Daar is steeds baie vir ons om voor te speel. Die gesprekke in die span is dat daar ’n klomp ouens is wat ná die WB uittree.”

Tahir en JP Duminy het reeds aangedui dat dié toernooi hul laaste in eendagkrieket vir Suid-Afrika sal wees. Ander spelers soos Du Plessis en Hashim Amla sal nie in nóg ’n WB speel nie.

“Dit is die laaste keer wat ons as ’n eenheid saam is. Niemand weet wat ná die toernooi gaan gebeur nie, so ons moet seker maak ons speel met trots.

“Dit is uiteraard altyd spesiaal om vir jou land te speel. Om dan afskeid van ’n paar spelers te neem, gee ons nog bykomende trots om voor te speel.”

Du Plessis hoop dié dag-aand-wedstryd kan weer ’n klassieke WB-tweestryd tussen die Proteas en Aussies wees, soos die geval 20 jaar terug was toe die spanne mekaar in die WB-halfeindronde gepak het.

Daardie wedstryd het op dramatiese wyse gelykop geëindig en Suid-Afrika is uit die toernooi geboender.

“Dit is nie lekker herinneringe vir my nie,” het Du Plessis laggend gesê. Hy was toe 15 jaar oud gewees het.

“Hopelik het ons Saterdag een van daardie groot wedstryde. Hopelik werk dit goed vir ons uit.”

* Moontlike Protea-span: Quinton de Kock, Hashim Amla, Faf du Plessis (k), Aiden Markram, Rassie van der Dussen, JP Duminy, Dwaine Pretorius, Andile Phehlukwayo, Chris Morris, Kagiso Rabada, Imran Tahir.