David Warner en Steve Smith sal Saterdag in Manchester vir die eerste keer sedert die balpeuterskandaal verlede jaar in Kaapstad in ’n krieketwedstryd teen Suid-Afrika speel.

Sedert daardie toetsreeks, wat Faf du Plessis met ’n TV-sepie vergelyk het vir al die drama wat dit ingehou het, is Australiese krieket swaar beproef.

Warner en Smith is albei vir ’n jaar uit die sport geskors, die vorige afrigter, Darren Lehmann, het bedank, Krieket Australië het ’n ganse kultuur-verskuiwing ondergaan . . . Vir ’n jaar was daar chaos in Aussie-krieketkringe.

Maar nou, met Warner en Smith terug, is die Aussies weer op ’n opwaartse kurwe en Justin Langer, hul breier, glo nie ou wonde sal oopgekrap word met Saterdag se herontmoeting tussen die spanne nie.

“Die wedstryd het betekenis vir baie van ons spelers, maar ons gaan die emosie daaruit haal. Ons is hier om hulle met ons vaardighede te klop. Ons is hier om die twee punte te kry, om die wenmomentum te behou,” sê Langer, wie se span die voorste plek op die Wêreldbeker-puntelys beklee.

Wen hulle Saterdag se wedstryd, sal die Aussies die rondomtalie-fase in die eerste plek afsluit.

“Die laaste 12 maande het ons genoeg emosie in Australiese krieket gehad om ons ’n leeftyd te hou. As ons ná alles wat gebeur het, eerste op die WB-puntelys kan eindig, sal dit ’n skitterende ommekeer wees.

“Vir daardie twee ouens (Warner en Smith) is dit net nog ’n opwindende WB-wedstryd. Hulle koester dit om weer krieket vir Australië te speel en hulle speel ongelooflike krieket.”

Langer sê dit het harde gewerk geverg vir die Aussies om ná die Kaapstad-skandaal te vorder tot waar hulle nou op die drumpel van die WB-uitspeelstryde staan.

“Dit was een van die grootste krisisse tot nog toe in Australiese krieket, daar was baie hartseer,” sê Langer.

“Ons wil Australiërs by die huis trots maak en hopelik doen ons dit. Ons het daaroor gepraat om ander lande se respek terug te wen en hopelik doen ons dit ook. Nie net deur die krieket wat ons speel nie, maar ook hoe ons onsself handhaaf op en weg van die veld.”

David Warner is skitterend op dreef in die WB-toernooi. Foto: Getty Images

Du Plessis is Vrydag by sy nuuskonferensie selfs gevra of hy dink Warner en Smith sal vir altyd vir dié voorval onthou word.

“Ek dink nie die spel sal hulle onthou vir die balpeutery nie,” het Du Plessis gesê.

“Hul vertoningslyste en vertonings praat baie harder as dit. Die Australiese kultuur het ook verander ná die voorval. Almal begaan foute.

“Dit gaan oor hoe jy daaruit leer en vorentoe beweeg.”

Die Proteas gaan ook nie die voorval as ammunisie vir bekgevegte gebruik nie.

“Vir my is dit altyd die grootste uitdaging om teen Australië te speel. Ons sal beslis nie die verlede ophaal nie,” sê die Protea-kaptein.

Imran Tahir, wat sy laaste eendagwedstryd sal speel, sê ook “Sandpapergate” is nou gedane sake.

“Ons dink glad nie daaraan nie. Hulle het hul strawwe uitgedien. Almal begaan foute, ek het ook al baie foute begaan,” sê Tahir.

“Warner en Smith is spelers van wêreldgehalte. Ons gaan nie enige bekgevegte op die veld begin nie, maar ons sal ook nie stilbly as hulle ons begin hap nie.”