Statistieke vertel nie altyd die volle verhaal nie, maar dit is veelseggend én kommerwekkend dat Kagiso Rabada die Protea met die beste kolfgemiddeld in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Engeland en Wallis is.

Rabada se gemiddeld van 55 is ’n bewys daarvan dat die Proteas se laerordekolwers hulle klokslag moes probeer red in die drie voltooide wedstryde wat hulle tot dusver gespeel het. Dié snelbouler se gemiddeld word wel verstewig deur die feit dat hy nog net een keer in drie beurte sy paaltjie verloor het.

Onder die voorslagkolwers het Quinton de Kock (39.33 ná vier beurte) die beste gemiddeld. Dié paaltjiewagter het tot dusver 118 lopies aangeteken.

Rassie van der Dussen (37.66 ná drie beurte) het sover 113 lopies aangeteken en Faf du Plessis 105 teen ’n gemiddeld van 35.

Dié statistieke is nie veel om oor opgewonde te raak nie. Suid-Afrika se voorste lopiemaker, De Kock, is slegs 15de op die lys van die algehele voorste lopiemakers.

Boaan dié lys, ná drie beurte, is Bangladesj se veelsydige speler Shakib al Hasan, met ’n allemintige 260 lopies ná drie beurte teen ’n gemiddeld van 86.66. Hy het reeds ’n honderdtal en twee vyftigtalle aangeteken.

Die Aussie-aanvangskolwer David Warner is tweede met 255 lopies ná vier beurte. Hy het sy lopies teen ’n gemiddeld van 85 aangeteken en reeds ’n honderdtal en twee vyftigtalle opgestapel.

Jason Roy van Engeland is derde met 215 lopies ná drie beurte, teen ’n gemiddeld van 71.66. Hy het reeds ’n honderdtal en ’n vyftigtal aangeteken.

Die lys van voorste lopiemakers is ’n bewys dat spanne se groot spelers na vore tree in groot toernooie. Suid-Afrika het nodig dat De Kock en Du Plessis ook onder die voorste kolwers op dié lys tel.

Onder die boulers is dit opvallend, maar nie verbasend nie, dat snelboulers tot dusver oorheers.

Pakistan se Mohammad Amir is met tien paaltjies in drie wedstryde boaan die lys van paaltjievrate.

Die Aussie-duo van Pat Cummins en Mitchell Starc is gesamentlik tweede met nege slagoffers elk ná vier wedstryde.

Die Nieu-Seelanders Lockie Ferguson (8) en Matt Henry (7) is volgende op die lys. Dié statistieke sluit egter nie Donderdag se wedstryd tussen Nieu-Seeland en Indië in nie.

Die beste Protea-boulers is Andile Phehlukwayo, Imran Tahir en Rabada, met vier paaltjies elk. Suid-Afrika se beplande sterkpunt, ’n vreesaanjaende boulaanval, het tot dusver ook nie juis vrugte afgewerp nie.

Oor die algemeen skets die statistieke ’n asvaal prentjie vir die Proteas.