Sondag, 7 Julie 2019:

Vandag is die beste dag van die Wêreldbeker-kriekettoernooi. Die belangrikste wedstryd word vandag beslis.

Nie op Lord’s, of die Oval of Edgbaston nie. En nie tussen Australië, Indië, Engeland of Nieu-Seeland nie.

Vandag speel drie saamgeflanste spanne bestaande uit lede van die wêreld-krieketmedia teen mekaar in drie T10-wedstryde by die intieme Manchester West-krieketklub.

Die Proteas het gister ’n lekker troossege oor die Aussies behaal, maar vandag se aksie is uiteraard veel belangriker as sulke onbenullige uitslae.

Ons ruk stuk-stuk op na die veld. Joernaliste van oral, van alle ouderdomme en uiteenlopende vaardigheidsvlakke, wat die spel betref, daag op in velerlei klere en kleure.

Waar Kagiso Rabada ’n energiedrankie sal drink en in ’n ysbad klim ná ’n veeleisende boulskof, geniet ons liefs ’n biertjie terwyl ons vir die eindstryd wag.

Een joernalis van Sri Lanka daag selfs op met ’n kolf wat hy by die span se kaptein, Dimuth Karunaratne, as geskenk gekry het. Niemand buiten die Engelse joernaliste het uiteraard toerusting hier nie. Maar een of twee was slim genoeg om ’n “boks” te gaan aanskaf, want min dinge kan ’n prettige dag so bederf soos om dáár raakgeboul te word.

Die spanne, Res van die Wêreld 1 en Res van die Wêreld 2, bestaan uitsluitlik uit Asiese joernaliste. Die derde span heet “England-ish”.

Soos dit enige goeie Engelse krieketspan betaam, het hy heelparty Suid-Afrikaners. Liewer – die “Engelse” mediaspan bestaan uit ses Suid-Afrikaners en vyf Engelse.

Die eerste wedstryd is tussen die Kolpak-elftal, soos ons onsself gou doop, en Res van die Wêreld 1.

Tinus van Staden

Die uwe en Sport24 se Lloyd Burnard begin die boulwerk. ’n Dodelike duo soos Brett Lee en Glenn McGrath. Burnard plant die bal op ’n tiekie, kry selfs ’n bietjie swaai. Hy maak ook die eerste deurbraak en raak van die enigste kolwer ontslae wat ’n kolf kan vashou.

Ons beperk Res van die Wêreld 1 tot net onder 60 lopies, ’n beskeie teiken wat ons kolwers (die Engelse in die span het besluit hulle sal die kolfwerk doen) vinnig kafdraf.

In die tweede wedstryd van die dag klop Res van die Wêreld 2 vir Res van die Wêreld 1 terwyl die Suid-Afrikaanse en Engelse joernaliste ons batterye vir die laaste wedstryd, die eindstryd, herlaai.

Waar Kagiso Rabada ’n energiedrankie sal drink en in ’n ysbad klim ná ’n veeleisende boulskof, geniet ons liefs ’n biertjie terwyl ons vir die eindstryd wag.

Só belangrik is die dag dat die Internasionale Krieketraad (IKR) se uitvoerende hoof, die voormalige Protea-paaltjiewagter Dave Richardson, kom inloer om die aksie dop te hou.

Richardson se werknemers, lede van die IKR se mediaspan, doen as skeidsregters diens en die blaaskans tussen die wedstryde is die ideale geleentheid om by krieket se grootbaas te kla oor ’n paar verdagte beslissings.

Hy vra om verskoning dat daar geen kykweers kan wees nie. Heeltemal onaanvaarbaar vir die belangrikste wedstryd van die toernooi, maar nou ja.

Ons herstel-roetine werk skynbaar beter as wat ook al die Proteas tussen wedstryde doen, want ons wen die tweede wedstryd net so gerieflik. Die Kolpak-elftal is die wêreldkampioen!

Dinsdag, 9 Julie 2019:

Om drie boulbeurte af te stuur, is nie vir sissies nie, hoor. My blaaie is so seer, ek kan nie eers lag nie. Elke sport het maar sy beserings.

Maar dit is alles oukei. Want ons sal vir altyd onthou word as die enigste Suid-Afrikaners wat in die 2019-WB-toernooi iets in Engeland kon wen.