Die SAUK en SuperSport het tot ’n vergelyk gekom en ’n ooreenkoms is tussen die partye bereik om die Wêreldbeker-krieketwedstryde op die nasionale uitsaaier se kanale te vertoon.

Faf du Plessis, kaptein van die Proteas en sy Australiese eweknie, Aaron Finch, in gesprek tydens verlede week se kapteins-mediadag in Londen. Foto: Getty Images

Dit volg na uitgebreide onderhandelinge tussen die partye, het hulle Maandag in ’n gesamentlike verklaring gesê.

Sommige van die wedstryde sal regstreeks uitgesaai word, terwyl ander wedstryde opgeneem en later uitgesaai sal word. Hoogtepunte van die toernooi wat in Engeland en Wallis gespeel word, sal ook uitgesaai word.

Die SAUK sal binnekort besonderhede rakende sy uitsaaiskedule bekend maak.

Die toernooi begin Donderdag met ’n wedstryd tussen die gasheer, Engeland, en Suid-Afrika . – Sportredaksie