Hy voel jammer vir die spelers – maar met die baadjiedraers van Suid-Afrikaanse krieket het hy géén simpatie nie.

Dit is hoe die eertydse snelbouler van die Suid-Afrikaanse krieketspan, Fanie de Villiers, oor die vertonings van Faf du Plessis se span by die Wêreldbeker in Engeland voel.

“Dit is meer as net swak spel wat ek sien. Daar is paniek in die kamp en ons speel amper Pakistan-krieket waar enigiets moontlik is en daar op ’n sekere dag net mooi niks aangaan nie,” sê De Villiers.

“Waar is die strategie? Waar is die leierskap? Ek wys nie net vingers na die spelers nie, maar na almal wat ook in bestuursposte betrokke is by die span.

“Ek sien geen waarde wat tot die span toegevoeg word deur senior spelers nie. Waar kruip hulle weg? Wat gaan aan?” het hy verwoord wat meeste krieketondersteuners in die land oorbluf laat nadat die eerste drie wedstryde in die toernooi verloor is.

“Daar is vir my werklik ’n onkunde in Suid-Afrikaanse krieket en hoe dinge gedoen word. Die uitwerking wat die Hashim Amla- en Dale Steyn-situasies op alles het, raak die sielkunde van die span.

“Daar is nie genoeg professionele leiding om die span weer op koers te kry nie,” sê hy.

Hashim Amla is in Fanie de Villiers se opinie teen die kop geboul in die openingswedstryd omdat hy nie meer goed die bal kan sien nie. Foto: Getty Images

“Dink net watter uitwerking die Steyn-situasie op die span het. Hy is daarheen as een van hul voorste snelboulers, maar die gevoel was altyd dat hy nie fiks en reg is nie. Nou kom hy huis toe sonder dat hy ’n enkele bal geboul het. Om nou ook te wil sê dit is die Indiese Premierliga (IPL) se skuld dat hy weer seergekry het, is sommer nonsens.

“Die IPL, waar ’n bouler net vier beurte per wedstryd boul, is juis ideale voorbereiding vir ’n Wêreldbeker. Hoekom is (Jasprit) Bumrah en hierdie ouens van Indië nie dan ook nou beseer nie?

“Hoekom dink jy is Amla teen die kop geboul deur (Jofra) Archer? Dit is bloot omdat hy nie meer daar hoort nie en nie meer die bal behoorlik sien nie.

“Gary Kirsten het hier teen die einde van sy loopbaan vir my gesê hy sien nie meer die bal so lekker nie en kort daarna het Glenn McGrath hom teen die kop geboul. Diegene wat Amla gekies het, sal eindelik moet pa staan as hy ernstig beseer word, want hulle speel nou iemand wat nie meer opgewasse is vir sy taak nie,” glo De Villiers.

“Wat het ook van (Kagiso) Rabada se wegswaaier geword? Hoekom speel Ngidi nie? Ek glo daar moet ontslae geraak word van die fisio, biokinetikus en al die ouens wat na die spelers se fiksheid moet kyk. Kry vir Paddy Upton terug, wat presies weet hoe om die ouens fiks en reg te kry.

“Lyk my ons is terug by daardie dae toe Shaun Pollock die kaptein was en daar ’n gevoel was dat die ouens kon oefen net soos hulle wou en nie fiks en honderd present hoef te gewees het nie,” sê hy.

Fanie de Villiers/Foto: Gallo Images

“Hoekom is Dale Benkenstein (kolfafrigter) daar as hy nie die ouens terug in vorm kan kry nie? Kyk hoe lank het hy vooraf met Amla gewerk, en kyk hoe sukkel Amla steeds. Dan moet daar plan gesien word om óf van Amla óf van Benkenstein ontslae te raak.

“Verder is daar nooit regtig moeite gedoen om AB de Villiers in die Suid-Afrikaanse stelsel te probeer hou nie. Vir my is al die veelsydige spelers niks meer as middelmatig nie.

“Nee wat, ek het geen simpatie met hierdie swak keuses wat met hierdie groep gedoen is nie. Die druk om keuses soos Amla en Steyn daar te hê het ’n rippeleffek op die hele groep. Dit saai selfs twyfel in die gemoed van die enkeles wat nog iets kan beteken en raak hulle negatief,” sê De Villiers.