Desondanks David Warner se flitsende kolf op die Wêreldbeker-kriekettoernooi loop hy steeds op sosiale media deur en word as “oneerlik” gebrandmerk.

Dit volg nadat die 32-jarige Warner Saterdag in Manchester 122 lopies vir Australië teen Suid-Afrika aangeteken het. Dit was egter nie genoeg om sy span van ’n oorwinning te verseker nie en die Proteas het met tien lopies gewen.

Dit was Warner se derde honderdtal in die toernooi, wat hom naas Rohit Sharma die grootste lopievraat in die toernooi maak.

Die galbrakery van gebruikers op sosiale media het gevolg nadat sy vrou, Candice, op Twitter geskryf het hoe trots sy op haar man is.

“Welgedaan my lief met nog ’n ongelooflike honderdtal vir jou land. Ek weet dit is nie die uitslag wat die span wou hê nie, maar jy het ’n goeie week gehad. Isla (wat net meer as ’n week gelede gebore is) het die eerste keer die geleentheid gehad om haar pa te sien speel en jy het nie teleurgestel nie. Ons is lief vir jou,” het sy geskryf.

Dié inskrywing het egter die Twitterati na hul gifpenne laat gryp, met sommiges wat Warner daaraan herinner het dat hy betrokke was by die skuurpapier-balpeuteryskandaal vroeg in 2018.

Dit was toe hy, Steve Smith, die span se destydse kaptein, en Cameron Bancroft geskors is, nadat laasgenoemde betrap is dat hy die bal se toestand met ’n stukkie skuurpapier wou verander. Die voorval het tydens ’n toets tussen Australië en Suid-Afrika in Kaapstad plaasgevind en het skokgolwe deur die krieketwêreld gestuur.

Ene Tony Torrance het gesê dat dit ’n goeie kolfbeurt (die naweek) was, maar dat hy nie toegelaat moet word om te speel nie. Nie almal het egter sulke besadigde kommentaar gelewer nie. Ene Matthew Gillespie het gesê: “Ek het gewonder hoeveel skuurpapier jy gebruik wanneer jy so baie lopies aanteken.” Net so het ene Pertegrine Goodfellow nie geskroom om na Warner as ’n “skelm” te verwys nie.

Tog was daar ook mense op Twitter wat vir Warner in die bresse getree het, soos ene Arun Salian. “Ek moet sê, hy is een van die beste spelers in die wêreld. Dit was ’n goeie beurt, kampioen.” – Sportredaksie