David Warner en Steve Smith kan baie belangrike rolle by vanjaar se Wêreldbekerkriekettoernooi in Engeland en Wallis speel.

Só sê die gewese Australiese afrigter Darren Lehmann.

David Warner in aksie in die IPL. Foto: AP

Smith en Warner het albei eers onlangs teruggekeer na die Australiese span nadat hulle hul jaarlange skorsings uitgedien het vir hul aandeel vir verlede jaar se balpeutery-skandaal in Suid-Afrika.

Dié skandaal het Lehmann ook sy pos as Australiese afrigter gekos.

Albei kolwers het suksesvolle terugkeer tot groot krieket gemaak by die onlangse Indiese Premierliga.

“Smith op nommer 3 of 4 kan uitstaande wees,” het Lehmann aan Australiese radio gesê.

“Mense is bekommerd oor die (onaktiewe) 12 maande, maar kyk net na hul vertonings in die IPL.

David Warner is opwindende masjien boaan die kolflys. Hy kan ’n hele toernooi aan die brand kolf,” meen Lehmann.

“Dit is hy wat ons in 2016 op koers gekry het om die WB-toernooi te wen. As hy en sy aanvangsvennoot, Aaron Finch, Australië weer só momentum kan gee aan die begin van die kolfbeurt, gaan Australië moeilik gekeer word.”

Warner was baie indrukwekkend in Indië en het die T20-toernooi as die grootste lopievraat met 692 lopies in 12 wedstryde afgesluit. Dit het nege tellings van meer as 50 ingesluit.

Lehmann is nie bekommerd oor hoe dié twee ervare kolwers weer in die Aussie-span sal inskakel nie.

In hul afwesigheid het Usman Khawaja ’n goeie aanvangspaar met Finch gevorm.

“Nee wat, dit is nie ’n probleem nie. Warner sal beslis die beurt saam met Finch begin. Khawaja sal op no. 3 kolf en Smith op vier,” het die voormalige afrigter gesê. – Reuters