Die Wêreldbekertoernooi het  op 30 Mei begin. Drie dae later, op 2 Junie, was Suid-Afrika se veldtog reeds in die waak- eenheid. Tinus van Staden  probeer uit Londen sin maak van die Pro­teas se soveelste  Wêreldbeker-misoes.

Du plessis

Waar is die intensiteit? Waar is die verbeelding? Waar is die doelgerigtheid?

Maar nog belangriker, liewe Proteas, wáár is die lopies?

Voordat die Wêreldbekertoernooi begin het, het die Proteas gepraat van hul uitstekende boulaanval wat enige teiken kan verdedig en enige kolflys met vaart en vernuf aan flarde kan skeur.

Daar is ook gepraat van ’n nuwe ingesteldheid, ’n kalmer aanslag. ’n Wen-is-nie-alles-nie-houding.

Die Proteas wou speel soos ’n span met niks om te verloor nie, hulle wou die vrees vir mislukking heeltemal neutraliseer.

Nou, wanneer die Proteas se misoes in Engeland in heroënskou geneem word, blyk dit duidelik dat albei dié faktore ’n verlammende invloed op die span gehad het.

Daar is eenvoudig nie ’n groot genoeg premie geplaas om by die reuse-tellings – die 300’s, die 350’s – uit te kom nie. Toe Dale Steyn boonop seerkry en Lungi Ngidi drie en ’n halwe wedstryde met ’n dyspierbesering misloop, het die Proteas nooit oor hul A-klas-boulaanval beskik nie.

’n Mens wonder in elk geval of dit sou help, want as jou kolflys slegs ses vyftigtalle in ses wedstryde aanteken, en daar boonop slegs één vennootskap van meer as ’n honderd lopies was (dít boonop in ’n klein jaagtog teen Afganistan), gaan jy slae kry. As jou hoogste individuele telling in ses beurte 68 is, gaan jy nie baie wedstryde wen nie.

Nie eens as jy met vier Shane Warnes op ’n stowwerige slangput in Nagpur speel nie.

vennootskape, wb_krieket
vennootskape, wb_krieket

In die openingswedstryd teen Engeland is Steyn nie té veel gemis nie, want Suid-Afrika het die tuisspan se verwoestende kolflys steeds tot ’n baie haalbare 311/8 beperk. Die boulers het hul deel gedoen.

Die kolwers het egter met hul eerste van vele mislukkings van die toernooi vorendag gekom en die Proteas is vir 207 uitgeboul.

In die tweede wedstryd, teen Bangladesj, het Ngidi slegs vier beurte gehou voordat hy ook seergekry het. Die halwe boulaanval het gesukkel en Bangladesj het tot 330/6 gevorder.

Dié jaagtog was tot dusver die enigste keer dat die Proteas ’n telling van meer as 300 opgestapel het, maar die 309/8 was steeds nie goed genoeg nie.

Suid-Afrika se veldtog is toe eintlik reeds ’n nekslag toegedien. Daar is so half verwag dat die span teen Engeland sou verloor. Ook teen Indië, teen wie die Proteas hul derde wedstryd gespeel het.

Daarmee kon die span nog saamleef en ook op koers bly om die halfeindronde te haal.

Maar die Bangladesj-nederlaag was die begin van die einde.

Dit was ook in dié wedstryd waar ’n mens vir die eerste keer ’n halwe argeloosheid by die spelers begin opmerk het.

Die heeltyd is daar gepraat van dié nuwe, ontspanne houding. Die doel was om interne druk te verlig (want choking . . .), maar dit het begin voorkom of dit net té veel van die spelers se intensiteit gesteel het.

17: Suid-Afrika se voorste lopiemaker tot dusver, Quinton de Kock, beklee slegs die 17de plek op die lys van voorste lopiemakers by die WB-toernooi. Die Aussie David Warner is eerste op die lys met 447 lopies. De Kock staan op 191.

So asof daar ’n traak-my-nie-agtigheid posgevat het.

In die wedstryd teen Indië was daar, ten minste met die bal, meer doelgerigtheid te bespeur. Maar die kolwers kon eenvoudig nie die mas opkom nie.

En sedertdien was dit eenvoudig die grootste probleem.

Dié stelling word deur geen enkele statistiek beter geïllustreer as die volgende nie: Suid-Afrika se voorste lopiemaker tot dusver by die WB, Quinton de Kock, beklee die 17de plek op die lys van algehele voorste lopiemakers.

Met ander woorde: Onder die nege ander spanne is daar meer as ’n gemiddeld van een kolwer per span wat beter as Suid-Afrika se heel beste vertoon. De Kock het 191 lopies teen ’n gemiddeld van 38.20 aangeteken. Die voorste lopiemaker, David Warner van Australië, het 447 lopies in ses beurte teen 89.40 aangeteken. En daar lê die Proteas se doodsteek.

Die kolwers lyk boonop of hulle met boeie aan speel en soms maar bra verbeeldingloos. Rassie van der Dussen, wat die beste kolfgemiddeld (60) van die Pro­teas handhaaf, is die enigste kolwer wat in meer as vier beurte gespeel het wat ’n treftempo van beter as 90 (90 op die kop) handhaaf.

Met die bal vaar die Proteas goed. Chris Morris speel die beste krieket van sy lewe.

Hy is in die gesamentlike sewende plek op die lys van die voorste paaltjievrate met nege slagoffers in vier beurte. Imran Tahir het reeds agt paaltjies in vyf beurte platgetrek, Andile Phehlukwayo sewe en Kagiso Rabada ses.

Terloops, Phehlukwayo kan ook nie kwalik geneem word vir die nederlaag teen Nieu-Seeland nie. Die Kiwi’s het hom geteiken en hy was net ’n bietjie af – vir die eerste keer in die ganse toernooi.

Hul kolfprobleme het veroorsaak dat Suid-Afrika nog net een wedstryd kon wen en vier verloor het. Die span staan ’n kans om ’n lelike klad op Suid-Afrika se WB-naam te laat.

Was dit nie vir die bykans onvergeeflike nederlaag teen Bangladesj op die Oval nie, was alles nou nog hunky-dory. Maar helaas.

Nou staan hulle op die randjie daarvan om as die vrotste Protea-Wêreldbekerspan van alle tye beskou te word. Die Proteas moet eenvoudig begin wedstryde wen. Hul nalatenskap hang daarvan af.