Die Proteas sal Donderdag ’n oefensessie in die aand hou ter voorbereiding van hul eerste dag-aand-wedstryd van die Wêreldbeker-toernooi Saterdag teen Afganistan in Cardiff.

Nadat die span Dinsdag ’n reisdag en Woensdag ’n afdag gehad het, sal hulle hul voorbereiding Donderdag om 18:00 hervat.

Saterdag se wedstryd begin om 14:30 (SA tyd) en die idee van die laat oefening, is om die spelers ’n geleentheid te gee om veldwerk onder spreiligte te oefen.

Vandeesweek is die weer goor en die kans bestaan dat die spelers in elk geval Donderdagaand onderdak sal moet oefen. Reën het die Proteas se vierde wedstryd – Maandag in Southampton teen die Windies – kortgeknip en die weergode kan Saterdag in Cardiff weer ’n invloed hê, hoewel die kans op reën veel skraler is as wat Maandag die geval was.

Vanjaar se toernooi het Dinsdag reeds die ongewenste rekord gekry vir die WB met die meeste uitgereënde wedstryde, toe daar geen spel in Bristol moontlik was waar Bangladesj en Sri Lanka mekaar sou pak nie.

Dit was die derde wedstryd wat weens reën geen uitslag gehad het nie. In die toernooie van 1992 in Australië en 2003 in Suid-Afrika, was daar elk twee uitgereënde wedstryde.

Steve Rhodes, Bangladesj se afrigter, was nie tevrede omdat daar nie reserwedae vir die wedstryde geskeduleer is nie.

“Ons het mense op die maan laat land, so waarom kan ons nie ’n reserwedag hê nie?” wou ’n omgekrapte Rhodes weet.

Dave Richardson, die uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad (IKR), het later dieselfde dag in ’n verklaring gesê as hulle ’n reserwedag vir elke wedstryd moes inreken, sou dit die toernooi te lank laat uitrek het.

“Prakties sou dit baie moeilik wees,” sê Richardson.

Al word die wedstryde in verskillende stede gespeel, sou dit steeds ’n invloed gehad het op reis-, uitsaaiprogramme en die aantal vrywilligers wat die IKR moes betrek.

Richardson het laer getrek oor kritiek dat die IKR moes voorsien dat die weer in dié tyd sleg sou wees.

“Hierdie is baie buiteseisoense weer. In die laaste paar dae het ons meer as twee keer die gemiddelde maandelikse reënval vir Junie gehad, wat gewoonlik die derde droogste maand in die Verenigde Koninkryk is.

“In 2018 was daar net twee millimeter reën in die ganse Junie, maar in die laaste 24 uur is daar bykans 100 mm reën in die suidooste van Engeland gemeet.”

Hy sê voorts reserwedae is ingereken vir die uitspeelrondes.

Hoewel daar ook reën voorspel was, was spel wel Woensdag in Taunton moontlik in die wedstryd tussen Australië en Pakistan.

Daar is ’n 90%-kans vir reën in Nottingham Donderdag, waar ’n opwindende wedstryd tussen die enigste twee onoorwonne spanne oor in die toernooi, Nieu-Seeland en Indië, in die slag kan bly.

Vrydag se wedstryd tussen Engeland en die Windies in Southampton kan na verwagting ook deur reën beïnvloed word.