“Mo Salah, Mo Salah, Mo Salah!” weerklink dit deur die intieme, karaktervolle Griffin Belle-kroeg in Vauxhall, Suid-Londen.

Die Egiptiese doelskieter van Liverpool het sy span so pas met ’n strafdoel laat voorloop in die tweede minuut van die Kampioeneliga-eindstryd teen Tottenham in Madrid. Ek het oomblikke ná die afskop by die kroeg ingestap en nog nie eens my bier gekry nie. Vir sulke pandemonium was ek nie gereed só vroeg op hierdie Saterdagaand nie.

Die kroeg se besoekers is waarskynlik 80% Liverpool-ondersteuners. Benewens die jong man wat Salah se naam soos ’n oorlogskreet uitbasuin, is ’n ouer man reg voor my die meeste opgewonde oor Liverpool se doel. Sy verbleikte rooi Liverpool-ondersteunerstrui verklap jare se hartseer oor ’n topspan wat ’n onvermoë ontwikkel het om die Premierliga te wen – en boonop sedert 2006 se FA Cup-triomf heeltemal droëbek was wat titels betref. Daarom dat Salah se doel dié ou ondersteuner ontroer en selfs bewoë maak.

Sowat twee uur en ’n tweede Liverpool-doel deur Divock Origi later en die kroeg ontplof. Ondersteuners gryp mekaar. Hulle sing, hulle huil. Liverpool is die kampioene van Europa.

Vandat ek in Engeland aangekom het, was dit baie duidelik dat sokker koning is. Vir ’n week voor Saterdag se eindstryd, is die sportafdelings van elke koerant deur sokker oorheers. Ses, sewe blaaie is aan die opbou tot die eindstryd afgestaan. Dít terwyl die Wêreldbeker (WB)-kriekettoernooi Donderdag reeds begin het.

Op die dag van die eerste wedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland op die Oval, het Jonathan Liew, ’n skitterende sportjoernalis, ’n voorskou-indrukstuk oor die WB-kriekettoernooi geskryf wat so begin het: “Die Wêreldbeker-toernooi het ons bykans soos ’n dief in die nag bekruip . . .”

Ek het amper gestik aan my Engelse ontbyt, want dié dief kruip dan al deksels lank. Ek het gedink aan al die reëlings wat maande gelede reeds begin tref is vir my en van my kollegas van ander publikasies om die reis na Engeland te onderneem. En dié Engelse joernalis sê die toernooi het bykans vanuit die niet verskyn!

Betreklik baie mense het vir die openingswedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland opgeruk. Die afgelope Sondagoggend het dit egter duidelik geblyk dat daar niks in die land van die koningin is wat naby aan sokker kom nie.

The Griffin Belle, waar ek die eindstryd van die Kampioeneliga gekyk het, was stampvol. Foto: Tinus van Staden

Die strate van Liverpool was in rooi getooi en ’n reusagtige 750 000 toeskouers het hul helde ekstaties by ’n parade toegejuig terwyl die span bo-op ’n bus deur die stad gery het om hul titel te vier. ’n Paar Suid-Afrikaanse joernaliste het selfs die treinrit van twee en ’n half uur van Londen na Liverpool aangedurf om dié parade by te woon. Dít terwyl die Proteas op die Oval teen Bangladesj speel.

Dinsdag in Southampton som my Uber-bestuurder dit soos volg op: “Sokker het hier amper meer ondersteuners as wat geloof het.”

En dié ondersteunersbasis groei deurlopend.

In die kroeg waar ek die eindstryd gekyk het, was daar ’n groep Asiese vriende in Tottenham-truie. Die invloed wat die Suid-Koreaan van Spurs, Son Heung-min, het om dié spel na nuwe gehore te neem is opsigtelik. Ditto met Salah, wat Egiptenare by die miljoene in sokkerondersteuners verander het.

My Uber-bestuurder is ’n Afgaan van geboorte, wat in 2006 na Engeland verhuis het. Hy is nie juis ’n krieketondersteuner nie, maar . . .

“Ek is baie teleurgesteld. Ek wou so graag die wedstryd tussen Afganistan en Indië hier op die Rose Bowl gaan kyk het, maar die kaartjies is lankal uitverkoop.”

Dit is dalk nie hier so groot soos sokker nie. Maar krieket het darem nog sy plek.